Gedagte vir die dag: Gaan sit waar die mense sit

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het by die ballinge gekom en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit. (Esegiël 3:15, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Ons teks is een van die belangrikste sendingtekste in die Ou Testament. Voordat Esegiël moes gaan praat, moes hy eers gaan sit! Daar was ’n baie goeie rede voor. Wie was die mense na wie hy gestuur is? Wat was hul omstandighede? Hy het hulle nie geken nie. Daarom moes hy eers, toe hy kom by die ballinge in Tel-Abib, aan die oewer van die Kebarrivier, “gaan sit waar hulle sit, vir sewe dae lank, en hom verstom” – oor hul nood, hul situasie én ook oor hoe moeilik dit was om met hulle te praat op ’n manier wat hulle kon verstaan.

Dis ’n geweldig belangrike les: Voordat ons praat, moet ons ook gaan sit. Voordat ons antwoorde gee, moet ons eers luister. Getuiewees vra baie: ons tyd, ons aandag, geduld, dat ons met ons gespreksgenote identifiseer. Dat ons, soos ’n Indiaan aan ’n Amerikaanse sendeling gesê het, eers vir ’n paar maande in hul sandale moet loop. Vir Paulus het dit beteken dat hy vir die Jode ’n Jood moes word en vir die Grieke, ’n Griek, vir die swakkes, ’n swakke, vir almal alles, om hulle te red (1 Kor 9:20 ev). Die grootste voorbeeld van almal: Toe God sy Seun na die wêreld gestuur het, het Hy ’n mens geword en onder ons kom woon (Fil 2:5-11)!

Om jou werklik te identifiseer is moeilik. Esegiël vertel hoe teësinnig hy was, maar die Here het hom by die kraag geneem en laat sit (v 14)! Dink elke dag daaraan: Die Here het ons toe gerus vir sy diens met twee ore en een mond. Jy moet twee keer luister voordat jy een keer praat!

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dit is sulke diep gedagtes en verrykend om toe te pas in my omgang met jong gelowiges.

Baie dankie Piet Meiring vir hierdie perspektief.

Ek het uit JOB se omstandighede geleer om in stilte net te “wees”, teenwoordig waar iemand deur diep rou gaan, sonder om ‘n klomp nuttelose goed te sê.

HEER, help my om in wysheid te luister en te leer.
Amen

Yvonne ·

Dankie Here dat ek deel kan he aan U genade gawes, ek wil dit gebruik ter ere van U Heilige Naam

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.