Gedagte vir die dag: Skakel jou probleme oor in Bybelverse

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. (Psalm 119:103-105)

Ons almal leef met ’n hunkering in ons binneste na God, ’n begeerte in ons hart om Hom beter te leer ken. Dit is hoe God ons gemaak het, om Hom te soek. Sonder God in ons lewe sal dit altyd voel of iets kort, onrustigheid ons gedurig teister. Nou hoe leer ons God beter ken sodat ons onrustige hart bedaar, vra jy dalk? God openbaar Hom aan ons in en deur sy Woord. Dit is daar waar ons Hom leer ken en dit is ook wanneer ons tyd aan God se Woord bestee wat ons verhouding met Hom verinnig.

Maak tyd om God deur sy Woord te leer ken, dit sal jou lewe verander. ʼn Mens kan nie in ʼn verhouding met God staan as jy nie weet wat Hy sê nie. Jy kan God nie liefhê as jy Hom nie ken nie en jy leer Hom deur die Bybel ken. In vandag se teksgedeelte is dit duidelik dat die digter ’n behoefte aan kontak met die Here gehad het. Hy vind berusting en gemeenskap met God in die “Tora”, soos die Bybel destyds bekend gestaan het.

Die Bybel is miskien nie ’n handboek vol antwoorde op elke moderne vraag of kwessie waarmee mense vandag worstel nie. Dit gee egter baie duidelike riglyne wat ons vir seker met elke worsteling wat ons beleef, kan toepas. Daarom sê die psalmdigter in vandag se teksgedeelte dat God se Woord ’n lamp en lig is wat ons die regte pad wys.

Die digter sê die Woorde van God is soeter as heuning in die mond. Dit wil voorkom of hy nie net die Tora gelees het nie, maar dit ook dag en nag oordink het, want dit het hom wysheid en insig gebring. ’n Mens verval so maklik in ʼn negatiewe denkpatroon as jy gedurig aan neerslagtige dinge dink. Bedink liewer God se Woord, doen dit bewustelik en gefokus en jy sal verbaas wees watter waarde dit tot jou lewe toevoeg. Komaan, ek daag jou uit, skakel jou probleme oor in Bybelverse!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

michelle ·

Amen. Stem 100% saam want as die Here nie die Lig in my lewe is nie is ek Niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.