Gedagte vir die dag: Skatte in die hemel

Stilte-10.png

all-free-download.com

Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Matteus 6:20–21)

Die idee dat God so lief is vir sy kinders dat Hy hulle met besittings en welvarendheid sal seën, word al te dikwels wyd en syd verkondig. Ons is wel koningskinders, maar nie in die wêreldse sin van die woord nie.

Kyk maar hoeveel keer is konings gestraf omdat hulle met hul skatte ge­spog het. Hiskia wat wonderbaarlik genees is nadat hy tot God gebid het, het besoek ontvang van gesante van die koning van Babel. Hulle het geskenke en briewe gebring omdat hulle gehoor het van sy siekte. In plaas daarvan om God eerste te stel en Hom te prys vir sy genesing, het Hiskia hulle op ’n toer deur sy voorraadkamers en skatkamers geneem en gespog met sy besittings. Die Here het Jesaja gestuur om Hiskia se straf aan te kondig. Al sy skatte en van sy eie seuns sou eendag na Babel toe weggevoer word (lees 2 Konings 20).

Ons staar ons blind teen mense met baie geld. Materiële welvarendheid word ’n maatstaf waaraan sukses gemeet word. Mense met baie besittings word voorgehou as nastreefbare voorbeelde, maak nie saak hoe dekadent sommige van hulle leef nie. Jesus sê dit het geen waarde nie. Aardse besittings kan verniel of gesteel word of enige tyd van jou af weggeneem word. Jy kan dit nie saamneem as jy eendag sterf nie. Jou geld en goed kan jou lewe in­neem, jou gedagtes gevange hou, jou elke uur van die dag so besig hou dat jy vergeet van jou ‘hemelse beleggings’. Wanneer dit dan te laat is, ontdek jy jou aardse rykdom is so nietig dat jy met leë hande voor God staan.

Here, ons bid dat ons daagliks sal ontdek hoe ryk u woorde is, hoe waardevol u liefde en hoe milddadig u seëninge.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ElgeraineR ·

Dankie Here Jesus vir alles in my lewe, alles is voorregte van U Vaderhand.

Gert van Wyk ·

Dankie Here vir U genade wat so Groot is en dat ek weet U sort vir my.

Pieta ·

Baie dankie vir die Woord. So hoe maak n mens skatte bymekaar in die Hemel?

louis ·

Jy maak skatte bymekaar deur te getuig van God se goedheid en genade! Deur siele na Jesus te lei. Deur as lig te skyn in n donker wêreld van sonde!

Sakkie Kruger ·

Dankie vir almal betrokkie by die dagstukkies. Dis elke dag n tref punt !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.