Gedagte vir die dag:  Skatte

rivier_kalmte_rustig_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 6:19-24

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak … nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar … Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”. (Matteus 6:19-21)

Bekend, en helaas nie juis bemind nie. Dié Jesusuitspraak oor versamelde skatte word alte dikwels met ’n vrome kopknik en ’n harde hart aangehoor.

Haai nee, redeneer ons verbete, dit is mos verstandig om vir jou hier, in hierdie duur en onvoorspelbare lewe, ’n ietsie weg te sit! Want al weet ons alles van diewe en roes en so aan, is dit mos heel veilig in ’n bank, in ’n goeie belegging, by ’n betroubare makelaar? Buitendien, sal ons mor, wat is dié “skatte in die hemel” nou eintlik? Is dit ons goeie werke? Ons liefdegawes aan kerk en kerkmuise? Word dit alles iewers in ’n hemelse kluis gebêre?

G’n mens weet nie …

Ons weet wel, eerstehands, waar ons hart is. Oftewel ons aandag, ons belange en beplanning, ons bekommernisse. En net hier stel Jesus ’n feit aan ons wat ons nie kan ontwyk of ontken nie: Waar jou skat is, daar is jou hart. Dit is dus vir almal sigbaar. Hier loop ons immers met ons hart op ons mou.

Miskien is dit vir almal duidelik dat jy, soos Paulus dit later iewers sal stel, een van daardie mense is wat jou gedagtes rig op “die dinge wat daarbo is” (Kol 3:2). Dalk neem jy die Here ernstig op oor die vensters van sy hemel wat Hy so mildelik oopmaak (vgl. Mal 3:10).

Of miskien is jy een van diegene wat nag na nag wakker lê  en dink aan opbrengste en beloftes van opbrengste. Aan markbewegings en dreigende verliese. Dit sal jammer wees. Jou hart sal dit nooit hou nie …

Here-van-my-hart, U is die enigste skat wat waarde het. Hou my in u gedagtes!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.