Gedagte vir die dag: Skep moed, daar is hoop

 vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. (2 Korintiërs 4:16-17)

In moedelose tye van ons lewe voel dit asof ons wil tou opgooi en ophou probeer om kop bo water te hou. Hoe moeilik ons omstandighede ook al mag wees, daar is altyd hoop in God, en hoop is om die melodie van die toekoms te hoor. Mense wat Christus nie ken nie, het niks om aan vas te klou behalwe hulle eie hopeloosheid nie. Om op te hou hoop is om op te hou lewe.

Ons sterflike liggaam is onderworpe aan sonde en lyding, maar nogtans laat die Here ons nooit in die steek nie. Christus het die dood oorwin en daarom het ons die ewige lewe en ewige hoop.

Wy jouself opnuut aan God in elke moeilike omstandigheid. Wanneer ons swak is, werk Christus se opstandingskrag juis in ons om ons te versterk. Ons probleme mag nooit ons geloof laat kwyn of ons ontnugter nie.

Paulus skryf ons moenie toelaat dat teleurstellings, uitputting, pyn of kritiek ons uiteindelik dwing om moedeloos te raak en tou op te gooi nie, want daar wag ’n ewige beloning op ons. Hierdie ewige beloning is ’n volmaakte lewe saam met Christus eendag in die hemel. Die Skrif sê nie vir ons presies hoe ons opstandingsliggame sal wees nie, maar ons weet dit sal volmaak wees, sonder enige siekte of gebreke (Fil 3:21). Die Heilige Gees wat in ons is, is ook ons waarborg dat God vir ons splinternuwe, ewige liggame uitgesoek het en dat ons dit met die opstanding sal ontvang. Hierdie aarde is maar ’n tentwoning, ons vaste woning is in die hemel en die gedagte hieraan bied eindelose hoop. God is die Skepper van hoop. Sonder hoop sal ons nie eens die moed hê om deur vandag te kom nie.

Skep elke môre jou kwota hoop en moed by God se voete.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zettie ·

Ek kan nie wag om elke oggend se stukkie te lees. Dit is wonderlik.

Moedeloos ·

Dankie vir die boodskap. Ek het dit so nodig, want my man sit tans sonder werk en dit voel asof ek net alle moed kan opgee. Dit is vreeslik om so te voel en put mens fisies en emosioneel baie uit. Ek het alle aanmoediging en positiewe denke nodig. Ek is net moeg.

roetie ·

baie dankie vir die kragtige stukkie word vanoggend
dankie Vader dat ek weet deur U sal my teleurstelling my nie moedeloos maak nie maar dat DAAR n belonging op my wag. en dankie dat U hoop my deur hierdie dag sal dra..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.