Gedagte vir die dag: Skewe denkbeelde gee skewe afleidings

Foto: pixabay.com

Julle het die Here moeg gemaak met julle baie gepraat en dan vra julle: “Hoe het ons Hom moeg gemaak?” Julle het Hom vermoei deur te sê dat almal wat kwaad doen eintlik vir die Here aanvaarbaar is en dat Hy met hulle tevrede is. Julle het Hom vermoei deur te vra: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?” (Maleagi 2:17) 

Mense is soms dikbek omdat hulle skeef dínk, nie omdat dinge skeef geloop het nie. Hierdie vers handel oor die skewe denkbeeld wat die volk van God het, en hulle denkbeeld is die oorsaak van hulle ontevredenheid. Hulle denkbeeld is dat God dadelik mense wat reg doen, moet beloon en mense wat verkeerd doen, moet straf. As die “slegte” mense nie dadelik gestraf word nie, dink hulle God hou van sulke mense, en hulle as die “goeie” mense voel verontreg. Dis ’n denkfout, want niemand is goed genoeg om glad nie gestraf te word nie, én die finale afrekening is eers ná hierdie lewe (Matt. 13:29-30).

Hoe dikwels voel jy verontreg oor jou teëspoed, teenoor sekere “slegte” mense se omstandighede en voorspoed? Wat sou met óns gebeur as God regtig doen wat ons verwag, naamlik om elke sonde onmiddellik te straf? Ons kan ons denk beeld van God net betroubaar kry deur sy Woord te lees.

Besef jy dat ons ook maklik dink soos die mense in Maleagi 2:17?

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here help my om my opinie op U Woord alleen te skoei……nie wat ek dink of voel nie…..vergewe my vir al die verkeerde gedagtes..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.