Skietery in Nieu-Seeland: ’n Geloofsperspektief

Foto: (AP Photo/Mark Baker)

Deur InContext International

Die laaste skakel, stink debakel en die ligament-element

Op Vrydag 15 Maart het 49 mense gesterf en is meer as 20 ernstig beseer (teen publikasietyd) in ʼn massaskietery by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, waar aanbidders Vrydag ’n gebedsbyeenkoms bygewoon het.

Die eerste skietery het om ongeveer 13:45 (plaaslike tyd) plaasgevind by die Al Noor-moskee naby Hagley Park in die middestad waarin 41 mense gedood is. Die tweede moskee wat geteiken is, is geleë in die voorstad van Linwood. Sewe mense is in dié slagting dood en nóg ʼn slagoffer het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Eerste minister Jacinda Ardern het dit “as een van die donkerste dae van Nieu-Seeland” beskryf en sê die gebeure in Christchurch verteenwoordig “ʼn buitengewone en ongeëwenaarde daad van geweld”.

’n Man in sy laat 20’s is in hegtenis geneem op aanklag van moord en sal in die Christchurch-hof verskyn. Twee ander gewapendes is op die toneel in hegtenis geneem en word ondervra. ’n Vierde persoon wat in aanhouding is mag dalk niks met die aanval te doen hê nie.

Owerhede het nog nie die name van die aangehoudenes bekendgemaak nie. ’n Man wat beweer hy is verantwoordelik vir die aanval het ’n anti-immigrantmanifes van 74 bladsye agtergelaat waarin hy sy naam en die redes vir sy dade bekendmaak. Hy sê daarin dat dit as ’n terreuraanval beskou moet word.

Verreweg die ergste in die geskiedenis

Volgens Wikipedia is hierdie voorval tot dusver die grootste menseslagting in Nieu-Seeland se geskiedenis en dit staaf die woorde van Arden wat sê dit is “een van die donkerste dae van Nieu-Seeland”.

Hier onder is ’n lys van vorige soortgelyke aanvalle wat sedert 1951 in Nieu-Seeland plaasgevind het:

  • Die Ashburton Work and Income-moorde op 1 September 2014 in Ashburton – 2 dood;
  • Die Panmure RSA-moorde op 8 Desember 2001 in Panmure – 3 dood;
  • Die Raurimu-massaskietvoorval op 8 Februarie 1997 in Raurimu – 6 dood;
  • Die New Empire Hotel-brandstigting op 4 Februarie 1995 in Hamilton – 6 dood;
  • Die Bain-gesinsmoord op 20 Junie 1994 in Dunedin – 5 dood;
  • Die Ratima-gesinsmoord op 26 Junie 1992 in Masterton – 7 dood;
  • Die Schlaepfer-gesinsmoord op 20 Mei 1992 in Paerata – 7 dood;
  • Die Aramoana-slagting van 13 tot 14 November 1990 in Aramoana – 14 dood (insluitende die oortreder);
  • Die Noema Rika-moorde op 27 May 1951 in Otaki – 5 dood.

Die laaste skakel in ’n lang ketting

Vir die meeste kykers wat ’n terreurdaad op TV sien afspeel is die misdadiger altyd die een wat die wapen vashou en uiteindelik die sneller trek. Tog is hierdie finale oomblik in der waarheid maar net die laaste skakel in ’n lang ketting van negatiwiteit, agterdog, vrees en haat. Maar elke plasing op enige sosialemediaplatform wat mense polariseer word nóg ’n skakel in hierdie dodelike ketting wat die potensiaal het om weer iemand anders te beïnvloed om ’n sneller te trek. Ongeag die onderwerp – of dit nou vlugtelinge, ras, geloof, politiek of slegs mense is wat ander standpunte as ons het – elke plasing wat ’n sweempie agterdog bevat kan daartoe bydra dat een persoon ’n wapen optel en die laaste skakel in ’n ketting van haat word; die laaste strooi wat die kameel se rug breek.

Dit is ongelukkig waar dat Christene nie uitgesluit is nie en ook kan bydra tot hierdie dodelike proses. Heel dikwels word waarheid as platform en verskoning gebruik om vrees, haat en agterdog te saai. Daarom is dit van kardinale belang dat ons deurentyd moet onthou dat ons woorde net een van twee effekte het: óf dit gee lewe óf dit vernietig lewe – daar is geen alternatiewe neutrale handeling nie. Ons kommentaar beïnvloed mense en juis daarom moet ons uiters versigtig wees vir moontlike verskuilde boodskappe wat ons in die naam van Christus dalk kan deurgee. Die waarheid mag nooit ʼn motief word om mense agterdogtig of haatdraend teenoor mekaar te maak nie.

Die stank van sosiale media

Thomas Breuer, senior visepresident en mediese hoof van GSK Vaccines, het onlangs in ʼn rubriek geskryf oor wat ons uit die Groot Stank van 1858 kan leer en hoe dit vergelyk kan word met verkeerde inligting op die verskillende mediaplatforms.

Breuer het die volgende geskryf: “In die somer van 1858 het ʼn hittegolf die reeds erg besoedelde Teems laat gis en ʼn onuithoubare stank veroorsaak – dit was só oorweldigend dat dit die stadslewe tot stilstand geruk het.”

Jy mag tereg vra wat kan ʼn insident van 1858 ons leer oor verkeerde inligting op sosiale media in 2019? Heelwat.

Wat presies was die Groot Stank?

Om mee te begin is dit belangrik om te verstaan dat die Groot Stank nie oornag gebeur het nie. Besoedeling in die Teems en ook die onaangename reuke en gepaardgaande uitbreek van siektes is reeds in 1600 as ʼn probleem beskou. Daar was geen idees of planne om dit reg te stel nie en ook geen sterk motivering vir daadwerklike optrede nie. Ten spyte hiervan het die stad eenvoudig op sy transformasiebaan van Romeinse buitepos na stedelike metropool voortgesnel met die fokus op groei eerder as op die infrastruktuur of regulasies wat nodig was om die snelgroeiende stad in stand te hou.

In 1858 het die Groot Stank alles verander. Uiters hoë somertemperature het die stank só erg gemaak dat pogings om dit met bleikkalk (ʼn industriële bleikmiddel) te verbloem, gefaal het. As gevolg hiervan het alle aktiwiteite (ekonomies en ander) in die stad tot stilstand gekom en politici is gedwing om te erken dat werklike hervorming so gou as moontlik moet begin.

Infrastrukture moes vinnig verander word; strenger regulasies is ingestel en afgedwing. Op die ou end was die Groot Stank die rede vir ʼn sanitêre rewolusie wat die stinkende Teems verander het in die skoner, veiliger rivier wat dit vandag is.

Die Groot Stank van die sosiale media

Daar bestaan geen twyfel nie dat dade van geweld sy oorsprong het in die negatiwiteit van eendersdenkende mense. Dit kos net een plasing van agterdog, gevolg deur een van haat en nog een wat sy vrees uitspreek, om uiteindelik te veroorsaak dat een persoon ʼn geweer optel, ʼn moskee binnestap en mense blindelings begin doodskiet namens almal wat sy vrese “bevestig” het.

Die “groot stank” – die afgryslikheid daarvan wanneer een persoon die finale sneller trek – het in ʼn “vuilput van negatiwiteit” op sosiale media ontstaan en die pad van ongeverifieerde (verkeerde) inligting, samesweringsteorieë, veronderstellings en eie gevolgtrekkings geloop.

Breuer verwys na die voorkoms van verkeerde inligting op sosiale media as die “digitale ekwivalent van die Groot Stank”. Hy voeg by dat dit “ ʼn toenemende probleem geword het, maar nie skrikwekkend genoeg dat diegene wat verantwoordbaar is, enigsins voel dat hulle dalk meer as die “industriële bleikmiddel” moet gebruik om die stank te verbloem nie.

Tot nou. Hoewel vandag se sosialemediaplatforms gemeenskapstandaarde daargestel het, stelsels om oortredings aan te meld, asook gevolge vir diegene wat nie aan hierdie reëls en regulasies gehoor gee nie, is dit nog steeds onvoldoende om die sistematiese verspreiding van verkeerde inligting te verhoed.

Werklike verandering is nodig

Breuer som op: “Die Groot Stank het nooit gegaan oor die reuk as sodanig nie. In 1858 is daar steeds geglo dat sommige siektes, soos cholera, deur ‘slegte lug’ versprei word. Hierdie wanbegrip het tot die oprig van spoeltoilette in die huise van die rykes gelei wat (natuurlik) die ‘slegte lug’ uit die huis verwyder het, maar die hoeveelheid riool wat in die Teems gepomp is, laat toeneem. Ongelukkig, deur te veel aandag aan die verkeerde probleem (die stank) te gee, het die regte probleem (besoedelde water) slegs groter geword.

“Om te vergelyk: indien die verspreiding van verkeerde inligting die werklike groot probleem op sosiale media was, kon ons alles oplos deur dit ‘weg te spoel’ en só die stank verwyder. Ek is egter bekommerd dat dit die ware probleem verberg – ʼn gebrek aan vertroue. Die realiteit is dat ons almal ly aan ʼn voortdurende en toenemende gebrek aan vertroue in ons instansies, nywerhede, regering en selfs in die wetenskap as sodanig. Vir ʼn probleem so groot soos hierdie, het ons daadwerklike verandering nodig.”

En dit is hier waar die kerk betrek word. Ons, as navolgers van Christus, moet gereeld daaraan herinner word dat ons houdings, gedagtes en kommunikasie altyd ʼn weerspieëling behoort te wees van die Een wat ons volg:

  • Filippense 4:8: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle jul gedagtes rig.”
  • Jakobus 3:17: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.”

As ons nie ons gedagtes vul met alles wat waar, rein, mooi en prysenswaardig is nie, beweeg ons buite die grense van ʼn vrymakende God en in die ruimte van die een wat slegs wil vernietig, doodmaak en moor.

Weer eens, daar is geen neutrale handeling nie. Hierdie is ononderhandelbaar. Ons moet eerlik wees: Strook ons getuienis, die manier waarop ons die waarheid op sosiale media oordra, werklik met die bybelse missie om die seën van God na die mens te bring?

Jacinda Ardern, eerste minister van Nieu-Seeland, het op haar mediakonferensie daarop gesinspeel dat anti-immigrasiesentiment dalk die moontlike oorsaak was en gesê hoewel baie slagoffers waarskynlik migrante of vlugtelinge is, “hulle gekies het om Nieu-Seeland hul tuisland te maak, en daarom ís dit hul tuisland. Hulle is ons. Die persoon wat hierdie geweld teen ‘ons’ laat voortduur, is nie.”

“Hulle is ons” is ʼn indrukwekkende stelling van inklusiwiteit deur die eerste minister. Deur dít te sê, het Arden duidelik aangedui dat die Nieu-Seelanders se identiteit in hul houding en nie in hul burgerskap lê nie. Op dieselfde manier behoort die kerk altyd boodskappers van hoop en versoening te wees. Dít is die identiteitsdokument wat ons dra.

Die ligament van die liefde

In Kolossense 3 verskaf Paulus ʼn omvattende lys van deugde wat as’t ware die “versierings op die kleed” van elke gelowige behoort te wees. Hy sê in verse 12 en 13: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar.” En weer eens, soos in die meeste van sy briewe, sluit Paulus af met die een deugde wat Christenskap volledig saamvat. Nee, nie waarheid nie, maar liefde.

Wanneer Paulus na die woord “band” in die konteks van “band van volkomenheid” verwys, gebruik hy die Griekse woord sundesmos, wat ook ligament beteken. Daarom word liefde as die ligament beskou wat alle deugde tot volkome eenheid saambind.

’n Ligament in die menslike liggaam kan vergelyk word met die geestelike betekenis daarvan: Liefde (of liefdadigheid) is ʼn sterk, maar buigsame deugde wat alle ander deugde aan mekaar heg. Dit beskerm die geestelike liggaam en hou dit in die regte posisie voor God, wat die outeur en volmaker van liefde is. Dit verminder nie die belangrikheid van waarheid of enige ander deugde nie, maar dit beklemtoon die feit dat liefde die vermoë het om saam te voeg en te verenig, meer as enige ander deugde.

In ʼn mate hou waarheid ook alle deugde saam, terwyl liefde die skakel is wat alle deugde met mekaar verbind. Die rede hiervoor is eenvoudig: waarheid kan nie – en behoort ook nie – ʼn kompromie of buigbaar te wees nie. Waarheid staan ferm en het ʼn stewige fondament. Maar net so belangrik is die feit dat liefde nie stram en onbuigbaar kan of behoort te wees nie. Paulus verduidelik dit in 1 Timoteus 1:5: “Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ʼn rein hart, ʼn goeie gewete en ‘n opregte geloof kom.” Let daarop dat waarheid nie die doel is nie, maar liefde. Waarheid is die metode of manier, en is ondergeskik – want waarheid dien liefde. Die doel van waarheid is uiteindelik om die ware natuur van God aan die wêreld te wys – liefde.

Hierdie ligament van Bybelse deugde moet buigbaar en medelyend (barmhartig) wees. Liefde verbly hom nie “in” die waarheid nie, maar “met” die waarheid. Liefde vorm die manier waarop ons die waarheid vertel, terwyl waarheid die manier waarop ons liefde betoon, vorm.

Ten slotte

2 Korinthiërs 2:16: “Vir die laaste die stank van dood tot die dood, en vir die eerste ’n aangename reuk van die lewe tot die lewe, en wie sal hierdie dinge waardig wees?”

Dade van geweld op hierdie groot skaal gebeur selde op die ingewing van die oomblik en deur slegs een persoon wat ʼn behoefte aan vernietiging het, aangevuur. Nee, dit benodig ʼn gemeenskap, ʼn proses en ʼn oorsaak om mense te manipuleer om tot aksie te oor te gaan. Op dieselfde manier wat die “groot stank” van die media mense kan manipuleer om terreurdade te pleeg, só kan die aangename geur van Christus mense mobiliseer om lewe te gee.

In sy boek A Farewell to Mars skryf Brian Zahnd die volgende: “Dit is veel makliker om mense rondom ʼn Jesus wat ons vyande haat en ons oorloë seën, te verenig, as wat dit is om mense te verenig rondom ʼn Jesus wat ons oproep om ons vyande lief te hê en te bid vir dié wat ons vervolg.”

Mag dié wat Christus volg ʼn aangename geur versprei.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van InContext International geplaas. Lees die oorspronklike Engelse weergawe van die artikel hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Esme Jansen van Vuuren ·

Goeie berig. Die eerste minister van Nieu-Seeland se van is ARDERN.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Esme

Baie dankie, ons het die meningstuk gewysig sodat dit nou reg vertoon.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Leopold Scholtz ·

Indrukwekkende stuk. Dankie vir ‘n aangename geur in ‘n tyd waar dinge minder aangenaam ruik!

Annamarie Olivier ·

Leopold Scholtz – In ‘n volmaakte wereld!
Ongelukkig is dit net ‘n droom.

TN ·

‘n Duisend maal NEE __ daardie Moslems is vermoor waar hulle aanbid het . Alle geloof is ‘n euwel en is die broeiplek vir wandade soos hierdie .

Jack Klok ·

As dit waar is dat dit slegs ‘n gesindheids verandering by Christene vereis, hoe verklar ons dan die gruwelike aanvalle deur Moslems op Christene, Jode en ander. Dink aan 11 Sept 2001, die bomme op die moltreine in Londen en Madrid, op busse en by lughawens ens ens – almal deur Moslems. Die waarheid is dat Islam oorlog verklaar het teen alle nie-Moslems en dat hulle ‘n wêreld Kalifaat tot stand wil bring. Islam het twee keer van te vore Europa probeer verower, in die 16de en 18de eeue. Nou probeer hulle weer en die Weste is te blind om dit te verstaan. Die linkse multi-kulturalisme en toegeeflikheid teenoor vreemde invloede het die deur wyd oopgemaak vir die opmars van Islam na Westerse lande.

Ek sal nie verbaas wees as daar in die nabye toekoms meer anti-Moslem sentiment ontstaan nie. Moslems wil nie goeie burgers van die lande wees wat aan hulle asiel gebied het nie, hulle wil daardie lande vir Islam wen, Sharia wette instel en ons almal vyf keer per dag met ons aangesigte na Mekka op ons bidmatjies laat buig. Waar Sharia geld val lande terug na die donker middeleeue waar vroue geen regte het nie, nie nodig het om skool opleiding te ontvang nie, nie sonder begelei deur ‘n manlike familielid op straat in ‘n hijab mag verskyn nie, nie mag motor bestuur nie ens.

TN ·

Het jy gerieflikheids onthalwe vergeet van die duisende der duisende Moslems wat deur die Christene is Bosnië uitgeroei is ? Ek dink dat die waarheid is dat alle gelowe onverdraagsaam teenoor ander gelowe is want elkeen glo dat hy reg is . Geloof is ‘n euwel !

Karin ·

Teen die einde van hierdie eeu gaan die hele Europa ‘n kalifaat wees, of ons nou daarvan hou of nie. Die Christelike geloof is onder enorme druk.

John ·

.. ons vergeet die hand van die bose in verkeerde gedagtes en dade en nie geloofsgroepe nie. Die Kerk is deur die Vader ingestel. Moet alle kerke nou vernietig word. Dit sal ook nie deur ander gelowe geduld word nie… veral nie Islam nie. Paulus het Christene vervolg maar nie toe hy tot inkeer gekom het omgeswaai en toe anti-christene begin vervolg nie. Die onderdrukking van kulture lei eerder na wroeging en verdraaide woede. Nogal ironies dat die Moslems so graag in Christchurch bly. Groot samesyn en welsynsdade van Christene met/aan ongelowiges word nèrens in die Bybel aangemoedig nie, maar eerder die verkondiging van die Woord, gemeentevorming en bystand aan die naaste.

Frans C ·

Onrus oral in die wêreld wat tot emigrasie en immigrasie lei. En die grootste drywer agter dit is nie so seer klimaatsveranderinge nie, maar mense wat die lewe vir mense onmoontlik maak,want korrupsie,selfsug ens is aan die orde van die dag.

Gooi by dit ‘n klomp ekstremiste soos Isis en jy het ‘n resep dat daar vir elke aksie ‘n reaksie is.Waar Christene dus die ander wang draai word dit as swakheid vertolk.
Dit is tyd dat Christene opstaan en ophou om grond van Bybelversies ‘ ‘Jannie martelgat
houding’ in te neem en toelaat dat Christus tot ‘n bespotting gemaak en vir ander ‘n moderne vryheidsvegter.

Jerry ·

Goeie artikel wat inslag vind by diegene wie strewe na die sagtheid van die hart, na die geloof, hoop en liefde waarvan Jesus gelowiges leer. Beoefen geduld en verdraagsaamheid, vriendelikheid, onbaatsugtigheid, om nie boek te hou van die kwaad nie en geregtigheid. Diegene wie hulself laaste plaas sal eerste wees. Hierdie is die geheim vir die lewe, vir leef en laat leef. Dit beskerm gelowiges teen die negatiewe invloede van ideologiee van die slegte soos bv bevooroordeling, haat, wraak, vergelding, verryking en versugtiging. Net soos jy goeie en slegte mense kry in enige samelewing, so kry jy hulle ook in alle gelowe. Dit sou bevooroordeeld en verkeerd wees om alle Christene of alle moslems as net boos te wil afmaak. Jy kry diep gelowige en ongelowige mense wie slegs goedheid nastrewe op plekke waar jy goeie mense die minste verwag, maar hulle is daar, hulle is orals, maar jy kan goedheid net herken as jy jouself, goedheid nastreef, jy kan Jesus net herken in n ander persoon as Jesus in jou leef. Jy kan die liefde van Jesus net beoefen met rein gedagtes, daarom moet julle hard oefen om julle harde harte te versag. Dit stel jou ook instaat om jou eie en ander se boosheid te herken en om daardie boosheid te oorwin! Mense wat volgens die goeie wee lewe van gelowe of nie gelowe is die uiteindelike oorwinnaars! N sagte hart bring gesonde verstand en goeie oordeel en help om die goeie keuses te maak.

Ronnie ·

Baie mooi opbouende meningstuk. Daar is geen regverdiging vir geweld onder enige omstandighede nie. Elke individu is verantwoordelik vir sy of haar gesindheid en woorde. Almal het ‘n bydrae te maak.

Frans C ·

Die Moslem geloof het inteenstelling met die Christelike geloof uit ‘n geweldkultuur ontstaan. Lees gerus hoe hul stigter in teenstelling met Jesus, die Moslemgeloof net geweld in mense se keelgatte afgedruk het.

Ek wil nie in ‘n debat betrokke raak nie maar dit is duidelik dat mense min weet van die
ontstaan van verskillende gelowe.

Stephan de S ·

Die artikel is die reine waarheid. Net Jerry en in mindere mate Ronnie moet hul uit die debat hou eerder. Hulle dink geloof in Christus verg goeie mense wat hulself met goeie hoedanighede beklee en nou soos Fariseërs en skrifgeleerdes op openbare media hul “virtue signalling” uitstal. Die eienskappe wat in die artikel beskrywe word , word aan bedelaars,wat hul afhanklikheid en leegheid besef , deur die lewende Persoon Jesus Christus deur Sy lewendmakende Gees bemiddel. Die artikel verwys nie na menslike eienskappe of dit wat mense kan produseer nie. Moet asb nie die evangelie verwater tot menslike moonlikhede…..ons het n Saligmaker nodig omdat ons nie oor hd eienskappe self beskik nie. As iemand nie buig voor Christus as Persoon het hy/sy geen deel aan hd spesifieke debat nie.

Piet ·

My Vader se Hy is n jaloerse God. Hy duld nie ander gode of gelowe nie.

LEEU ·

18 Maart 2019 – n Islam gelowige skiet 10mense in Nederland, waar’s die berigte en selfde leiers nou??

Merkur ·

Die groot stank van politiese korrektheid.

„Die waarheid word dikwels as platform en verskoning gebruik om vrees, haat en agterdog te saai.“
Wat ´n belaglike stelling. Eerder kweek die leun haat, agterdog en vrees.
Indien die alternatiewe media die mense in die weste nie oor die Islam inlig nie, is die westelinge nog meer weerloos. Voorbeeld: in Duitsland word jong en naïewe vrouens en meisies wat verhoudinge met moslem asielsoekers ingaan en dan weer probeer uit die verhoudinge kom, baie dikwels deur hulle moslem ex-minaars vermoor. Die westerse meisies weet nie dat jy nie maklik weer uit so ´n verhouding kom nie. Die westerse kinders word weerloos soos lamme groot gemaak en dan word die wolwe ingelaat. Vir een of ander rede hou die staatsmedia en die corporate media ´n dekmantel oor die geweld teen en gevaar vir westerlinge deur moslems in westerse lande.
Nie die sosiale media is verantwoordelik vir die skietery in Nieu-Zeeland nie. Die gevoel van magteloosheid teenoor die eie westerse regerings wat teen die wil van die burgers kultuurvreemde mense laat instroom is verantwoordelik. Die skietery is ´n simptoom van ´n geweldadige ideologie namens multikulturalisme wat om die mensdom afgedwing word.

Merkur ·

Die groot stank van politiese korrektheid.

„Die waarheid word dikwels as platform en verskoning gebruik om vrees, haat en agterdog te saai.“
Wat ´n belaglike stelling. Eerder kweek die leun haat, agterdog en vrees.
Indien die alternatiewe media die mense in die weste nie oor die Islam inlig nie, is die westelinge nog meer weerloos. Voorbeeld: in Duitsland word jong en naïewe vrouens en meisies wat verhoudinge met moslem asielsoekers ingaan en dan weer probeer uit die verhoudinge kom, baie dikwels deur hulle moslem ex-minaars vermoor. Die westerse meisies weet nie dat jy nie maklik weer uit so ´n verhouding kom nie. Die westerse kinders word weerloos soos lamme groot gemaak en dan word die wolwe ingelaat. Vir een of ander rede hou die staatsmedia en die corporate media ´n dekmantel oor die geweld teen en gevaar vir westerlinge deur moslems in westerse lande.

Nie die sosiale media is verantwoordelik vir die skietery in Nieu-Zeeland nie. Die gevoel van magteloosheid teenoor die eie westerse regerings wat teen die wil van die burgers kultuurvreemde mense laat instroom is verantwoordelik. Die skietery is ´n simptoom van ´n geweldadige ideologie namens multikulturalisme wat op die mensdom afgedwing word.

Therese van Schalkwyk ·

Merkur
Hoewel hierdie ‘n aangrypende geskrewe stuk is, is jy heeltemal reg oor hierdie saak. “Die gevoel van magteloosheid teenoor die eie westerse regerings … ” is ‘n direkte oorsaak.
Daar is ‘n streng onverdraagsaamheid by regerings en linkse samelewings teenoor enigiemand of groep wat anders voel oor immigrasie. Géén debatvoering oor wíe in jou land ingenooi moet word, word aangemoedig of toegelaat nie.
Hewige reaksies op sommige tragedies, terwyl ander deur die wêreld ignoreer word, is ook net nóg ‘n kenmerk van ‘n skreiend skynheilige samelewing.

Jerry ·

Stephan de S, nie alle bedelaars is goed of sleg nie, reg of verkeerd nie of verstaan hulle afhanklikheid en leegheid nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.