Gedagte vir die dag: ’n Skoon gewete

sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Handelinge 23:6-11

Broers, ek het heeltemal ’n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het (Handelinge 23:1)

Jou gewete is daardie innerlike gevoel van of jy reg of verkeerd optree,” is een van die definisies wat ek raakgeloop het. Dit is nie onfeilbaar nie omdat dit van jou kultuur en ervaring afhang. Wat vir een mens verkeerd is, sal iemand anders dalk glad nie pla nie omdat hy of sy daarmee grootgeword het. Maar as jy nie volgens jou gewete handel nie, kan dit jou jare daarna nog pla.

Die Skrif én Paulus se opleiding as Fariseër het sy gewete gevorm. As vervolger van Christene was hy oortuig dat hy die regte ding doen. Nadat hy die Here Jesus ontmoet het, het sy gewete radikaal verander. Miskien is dit die rede waarom hy ’n klap tydens sy verhoor gekry het. Die Joodse owerhede het besef dat Paulus sy ou oortuigings laat vaar het. Hy beskou dit as verkeerd. Hy is oortuig dat wat hy nou glo en doen, reg is.

’n Gevoelige gewete is ’n groot aanwins. Hoe meer ’n mens geestelik groei, hoe meer raak jy van jou eie sondigheid bewus. Maar omdat Jesus die pad na vergifnis oopgemaak het, gee Hy ons innerlike vrede in die plek van daardie skuldgevoelens. God dink nie meer daaraan nie (vgl. Jes 43:25). Daarom kan jy ook ’n skoon gewete hê omdat jy die regte ding weet en daarvolgens leef.

Here, vergewe my al my sondes deur Jesus se bloed, en help my om vandag reg te leef, tot u eer.

Bron:
Uit die Beek 2017 deur Attie van Wijk
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.