Gedagte vir die dag: Skuldig en strafbaar

Bybel_kruis_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. (Romeine 6:23)

Elke mens is sondig en daarom is elke mens ook skuldig voor God. Dis ’n afgehandelde saak, want elke mens se sonde en skuld is reeds bewys. Die Bybel sê ’n “skuldbrief” of skuldbewys is reeds aan elke mens uitgereik!

Omdat elke mens skuldig is, is elke mens strafbaar en daardie straf, volgens die Bybel, is die dood. Dit dui eerstens op die fisieke dood – ons sterflikheid, met ander woorde. Pyn, lyding en dood is immers die gevolg van sonde. Dit dui egter ook op die geestelike dood, want sonde skei ons van God en van die sinvolle en oorvloedige lewe wat in Hom te vind is. Sonder Hom dwaal ons doelloos voort – ’n “doodsbestaan”. Dan dui dit ook op die ewige dood. Onthou, om totaal van God afgeskei te wees, genadeloos en alleen in ’n sinlose bestaan, is wesenlik waaroor die hel gaan! Dan het die dood volkome oorgeneem in ons lewe. Hoe jammer, hoe tragies, maar dít is waar sonde ons bring.

Hemelse Vader, ek prys U dat U my nie verlore laat gaan het nie, maar my gered het. Ek dank U dat die ewige dood nie vir my wag nie, maar die ewige lewe. Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus dankie dat U die oorwinning namens my behaal het….sonder U is ek niks…Amen

FM ·

Dis alleen deur die verlossing deur Jesus se kruis en sterwe en OPSTANDING dat ek GENADE ontvang.
Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.