Gedagte vir die dag:  Skyn!

ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 60:1-6

Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. (Jesaja 60:1)

Dit is nie ’n onbekende beeld vir gelowiges nie, dié van die lig wat hulle ontvang het en waarmee hulle nou hul wêreld moet verlig. Jesus gebruik dit ook in sy groot preek op die berg waar Hy aan sy volgelinge sê hulle is die lig vir die wêreld (vgl. Matt 5:14-16).

Paulus sluit later hierby aan en sê mense wat deur God verander is, moet lewe as “mense van die lig” (Ef 5:8).

Veel later sou kinders ’n Hallelujaliedjie leer wat hulle aanspoor om te skyn, selfs al is dit maar effentjies. So skraps soos “jy in jou klein hoekie, en ek in myn’ ”.

Aan Jerusalem word belowe dat die donker dae verby is. Dat die Here se teenwoordigheid die duisternis verdryf het en ’n nuwe dag gekom het. En, soos motte na ’n kers, word almal nou na dié lig gelok: nasies en konings, seuns en dogters, rykdom en roem.

So gee die Here alles wat nodig is aan hierdie eens verwoeste stad. En al wat gevra word, is: Laat skyn nou die lig wat jy ontvang het! Leef uit wat die Here jou gegee het. Wéés wat jy deur sy genade geword het. En kyk dan wat gebeur …

Jesaja 60 bruis van belofte, van troos. Gelowiges kan dit gerus oorweeg om dit meer dikwels te lees en só te leer van die Here van alle tye. Sodat hulle in tye soos dié weer bewus kan word van Hom wat lig gee, wat Lig is. Die Een wat ’n skynbaar nimmereindigende donkerte verjaag.

Hy wat alles gegee het sodat sy kinders in die lig van sy gawes kan leef.

U is my Lig. Laat my tog skyn, skyn, skyn!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.