Gedagte vir die dag: So helder soos daglig

man_pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. (Psalm 19:9) – Deel 2

Om die reëls te ken is een ding; om insig in die reëls te hê is ’n perd van ’n ander kleur. Insig is die vermoë om dieper as die oppervlakte te kyk, om die ware bedoeling te snap. En dit is waarvoor God sy gebooie vir ons gee om sy hartklop beter te verstaan. Ons word byvoorbeeld nie verbied om mense dood te maak gewoon net om geweldsmisdaad aan bande te lê nie, maar omdat God alleen oor lewe en dood seggenskap het. God gee lewe en Hy alleen mag bepaal wanneer ’n lewe geneem mag word. Ten diepste is die motief agter elke gebod nie humanitêr van aard nie, maar gaan dit oor die eer van God. En sodra ’n mens dit verstaan, benader jy die wet op ’n ander manier. Jy vind in die wet die volmaakte riglyn vir ’n gelukkige en vervulde lewe.

Ongelukkig ontbreek die regte insig in die wet meestal by ons. Die rede is dat ons die wet as ’n persoonlike bedreiging sien eerder as ’n aanwins. Is dit nie maar hoe ons oor verkeersoortredings dink nie? Die verkeersbeampte sit agter ’n boom met net een doel voor oë, naamlik om mense te vang en boetes uit te skryf. Onskuldige mense? Onregverdige boetes? Met die regte insig weet ’n mens tog dat snelheidbeperkings in belang van menselewens is.

Ons moet bid dat die Here vir ons baie meer insig in sy wet sal gee. Lees gerus weer hoe Jesus die wet interpreteer. Hy kyk dieper as die oppervlakte. Hy sien God se bedoeling raak.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.