Só kan jy Christene in Irak en Sirië help

geopende-deure-skermskoot-2017-09

‘n Skermskoot uit die video.

Ontmoet die 12-jarige Noeh van Irak. Voor die oorlog het Noeh ’n normale kinderlewe gehad – hy het dit geniet om skool toe te gaan en sokker te speel. In 2014 is hul dorpie, Karamles, egter deur die Islamitiese Staat (IS) binnegeval en hy en sy familie, soos baie ander, moes vlug.

[Kyk Noeh se video hier]

ʼn Paar maande gelede het Noeh en sy familie teruggekeer na hul bevryde dorpie wat nou in puin lê. Noeh het sy ou skool besoek en teruggedink aan soveel goeie herinneringe. Maar steeds is die droom om terug skool toe te gaan, nog ver in die toekoms.

“Ná die bevryding in Oktober [2016] het ons uitgevind dat ons huis deur die Islamitiese Staat afgebrand is. Ek was baie hartseer toe ek dit die eerste keer gesien het,” sê Noeh. Dit is ʼn lang pad wat voorlê voordat Noeh en sy familie kan terugtrek huis toe.

Maar ten spyte van die verwoesting wat die oorlog gesaai het en die voortdurende gevare, droom Noeh en baie ander jongmense daarvan om terug te keer na hul tuislande toe en hul dorpies en lewens te herbou. “Ons wil teruggaan huis toe… Ek wíl teruggaan, dit is ons land!” sê jong Noeh.

Geopende Deure werk deur kerke en plaaslike vennote om noodleniging aan tienduisende ontwortelde Christene, soos Noeh en sy familie, in Irak en Sirië te voorsien. Langtermyn-ondersteuning sluit in: opleiding, traumaberading en ondersteuning aan families om hul huise te herbou en klein besighede op die been te kry.

ʼn Petisie en die beroep op wêreldleiers

Meer as 430 000 mense van 127 lande het ʼn petisie onderteken wat ʼn beroep op wêreldleiers doen om vervolgde Christene en ander minderhede in Sirië en Irak te ondersteun. Dit vorm deel van ’n veldtog deur Geopende Deure om hoop te bring aan mense in die Midde-Ooste.

Oor die afgelope sewe jaar is miljoene mense deur die konflik in Irak en Sirië ontworteld gelaat, met die burgerlikes wat steeds die ergste geraak word deur die konflik wat gekenmerk word deur ongeëwenaarde lyding en vernietiging. Oor die afgelope dekades het die aantal Christene in Irak dramaties gedaal van net onder twee miljoen in die 1990’s, tot net oor die 200 000 vandag. In Sirië het tussen 300 000 en een miljoen Christene die land verlaat sedert die begin van die burgeroorlog in 2011. Vandag is daar 795 000 Christene in Sirië oor.

Die Een Miljoen Stemme van Hoop-petisie is geloods ná agt maande van konsultasie met Christene en kerkleiers in Sirië en Irak – om te verstaan wat hul behoeftes is, watter uitdagings hulle in die gesig staar en watter ondersteuning hulle nodig het. Die petisie sal op 11 Desember 2017 aan die Verenigde Nasies (VN) voorgehou word en doen ʼn beroep op die VN om te verseker dat Christene en ander minderhede in die lande die volgende geniet:

  • die reg tot gelyke burgerskap;
  • waardige lewensomstandighede;
  • ʼn prominente rol in die versoening en herbouing van die samelewing.

Geopende Deure poog om voor hierdie datum ten minste een miljoen handtekeninge, van reg oor die wêreld, in te samel. George, ʼn kerkleier van Qaraqosh in Irak, beklemtoon die belangrikheid van wêreldwye deelname aan die veldtog: “Ek dink ons het ten minste internasionale betrokkenheid nodig om ons situasie te ondersoek, sodat daar druk op die regering uitgeoefen kan word om die kwesbare minderhede, soos die Christene en die Yazidi’s, te beskerm.”

Geopende Deure Suider-Afrika poog ook om die kerk in Suid-Afrika te mobiliseer om hul handtekeninge by die petisie te voeg en saam met die mense in die Midde-Ooste te staan, wat deur die jare lange oorlog en onstabiliteit geaffekteer is. “Meer as 126 000 van die handtekeninge wat tot op datum ingesamel is, kom vanuit die Midde-Ooste self. Kom ons vat hande met ons mede-Christene in die Midde-Ooste en wys hulle dat ons omgee. Ons moet hulle wys dat ons in Suid-Afrika verenig is met hulle,” sê Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

Die publiek kan meer inligting oor hierdie saak verkry, asook hul stemme byvoeg, by www.opendoors.org.za/hoop.

Oor Geopende Deure

 Geopende Deure is ʼn internasionale bediening wat vervolgde Christene ondersteun en versterk – in meer as 60 lande en vir langer as 60 jaar al. Verlede jaar het die organisasie ongeveer $70 miljoen ingesamel om praktiese ondersteuning aan vervolgde Christene van reg oor die wêreld te bied, deur kos, medisyne, traumasorg, regshulp, plekke van veiligheid, skole, sowel as geestelike ondersteuning deur Christelike literatuur, opleiding en hulpbronne te voorsien.

Elke jaar publiseer Geopende Deure die Wêreldwaarnemingslys –  ʼn ranglys van die top-50 lande waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees. Dit word opgestel deur gebruik te maak van gedetailleerde inligting wat deur Geopende Deure se medewerkers in meer as 60 lande, asook onafhanklike kenners voorsien word. Geopende Deure se navorsingsmetodes en resultate is onafhanklik geoudit deur die Internasionale Instituut vir Geloofsvryheid. Die 2017 Wêreldwaarnemingslys verwys na die 12 maande wat op 31 Oktober 2016 geëindig het.

Sirië is nommer 6 en Irak is nommer 7 op die 2017 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MissDemeanor ·

Daar is baie me se in Sirie wat ly. Nie net “Christine en ander minderhede nie”. Dis so barbaars om te sien dat 10 mense suffer maar dan besluit mens om net doe 1 te help wat dieselfde oortuigings as jy het. Baie onchristelik as jy my vra. Christus self het geen onderskeid gemaak nie. Die Bybel leer ons dat Christus uitgereik het tot almal. Waarom doen ons nie?

MissDemeanor ·

En moet tog nou net noe my kommentaar rapporteer omdat dit jou ongemaklik maak noe. Wend jou eerder tot die nuwe testament en dan sien jy dat Christus ‘n vegter was vir almal. Christus reik uit na almal wat lewe. Die wat die Heilige Gees volg sal wel volgens die Bybel na hul dood deur God beloon word. Maar terwyl ons lewe moet ons soos Christus ook uitreik na almal. Dis nie ons werk om te oordeel noe. Maar die Bybel noem dat ons wel aan ons dade ook gemeet sal word.

Anoniem ·

Ai tog, jy is nou onnodig negatief!!!!
Hierdie is spesifiek vir Christene omdat hulle so geweldig vervolg word, dis waaroor Geopende Deure gaan! Verder as jy kyk na 1 John sal jy sien daar is wel onderskeid in die sin dat alle Christene broers en susters is, en dus op daardie manier vir mekaar sorg. Selfs blied familie help mekaar eerste. Christene is dan ook altyd daar om te help wanneer nie-Christene in nood verkeer. Kyk maar na die Zeno-fobie geweld ‘n paar jaar gelede – die kerke was oop vir almal, hulle wou nie eers weet wie is Christin en wie nie.

Liamari ·

Missdemeanor…jy is reg dat almal Christus se liefde behoort te sien en te ervaar. In hierdie geval het Christene die spesiale aandag nodig, juis omdat hulle die uitgewekenes is en op die vreeslikste wyse vervolg word oor hul geloofsoortuiging. Geen ander geloof in die wereld word so vervolg soos die Christendom nie. Ons broers en susters in Christus moet bygestaan word.

Louise ·

Ons behoort almal as klein en nietige sondaar mense op ons knieë te gaan en ons Hemelse Vader te dank dat ons nog Godsdiens vryheid het. Ek kan my nie indink hoe moet dit wees om God te aanbid, lofliedere te sing en dit te doen, terwyl jy weét jy kan enige oomblik in die tronk gestop word en gemartel word en tereggestel word nie !. Ek glo ons moet met die groot Genade waarin ons leef, ons lewe, tyd en finansies belê in ons mede christene in die vervolgde lande.
Dankie Here. Amen

Dries ·

Louise ek stem 100% saam met jou. Jou kommentaar strek vir my tot eer van GOD.

Dries ·

Hulle stel dit duidelik – vir Christene en “ander” minderhede, so die artikel se glad nie dat net na Christene gekyk moet word nie, maar dis veral Christene wat erg vervolg word daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.