Gedagte vir die dag: So moet dit nie onder julle wees nie

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. (Matteus 20:28)

“Maar by julle moet dit nie so wees nie.” Dit was Jesus se woorde in Matteus 20:26 na aan leiding van ’n ligte krisis wat tussen die dissipels ontstaan het oor wie die ereplek langs Jesus in die nuwe koninkryk gaan kry. Verder sê Hy vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik” (v 25). Van regeerders en groot manne weet ons, maar ook van oordonderende mense wat die grootste stuk koek wil hê en van diktators en magsbehepte mense.

In die liggaam van Jesus werk dinge egter anders. Dis net hier waar die krisis is. Ons lees Jesus se woorde, maar sien dit feitlik nêrens in die praktyk nie. Tog verklaar ons onsself as kerk van God besig met die werke van God. Ons preek uitgerekte preke met sterk pleidooie terwyl ons Jesus botweg ignoreer. Ons raak onthuts as mense ons nie reg aanspreek nie, ons ruk ons op wanneer ons nie erken word soos ons reken dit behoort te wees nie.

As Jesus my sou vra hoekom ek op spesiale behandeling en die gebruik van my geestelike titels aandring, of hoekom ek sy kudde outoritêr behandel en manipuleer sodat hulle nooit my lewe kan aanspreek nie, wat gaan ek vir Hom sê? As Jesus vir my sou sê: “Riekert, Ek het jou uitdruklik beveel om nie soos die wêreld te wees nie; Ek het die voorbeeld gestel; Ek het jou aangesê om ’n dienskneg te wees al reken niemand jou nie – tog het jy gekies om My te ignoreer … ” Wat gaan ek vir Jesus sê?

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marietjie ·

Dis moeiliker as wat jy dink, om altyd n “dienskneg” te wees. Jou eie ek beur net vorentoe. !!!

Lena Jonk ·

Ja Riekert as ons voor Jesus moet staan is ons almal skuldig aan verkeerde dade, wat gaan ek vir hom antwoord. Dankie vir Genade anders is ons almal verlore. Dankie vir n mooi boodskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.