Gedagte vir die dag: Só moet jou tevredenheid lyk

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Lees: Romeine 8:26-30

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. (Romeine 8:28-29, NLV)

In sy boek The Secret of Contentment identifiseer William Barcley sewe kerneienskappe van tevredenheid wat God van sy kinders vra. Eerstens is tevredenheid ’n innerlike eienskap, dit behoort in die hart van ’n mens gewortel te wees. Tweedens is tevredenheid gewortel in God se genade, en dit behoort na vore te kom in elke situasie waarmee ons te doen kry. Derdens kry hierdie tipe tevredenheid dit reg om vreugde te put uit absoluut alles wat God ons gee. Vierdens erken dit dat elke ding wat met ons gebeur uit God se hand kom, en dat Hy elke situasie nie net tot ons beswil kan omkeer nie, maar ook tot sy verheerliking kan gebruik, selfs ons krisisse en swaarkrymomente. Ons behoort dus gedurig van die feit bewus te wees dat God onderneem om vir ons te sorg. Vyfdens behoort ons met alle omstandighede in ons lewe vrede te maak omdat ons weet dat dit van God kom. Sesde moet ons soos Paulus leer om in élke omstandigheid tevrede te wees. In die sewende plek kontrasteer die tipe tevredenheid waaroor Paulus in Filip pense 4 praat, God se selfgenoegsaamheid teenoor ons eie afhanklikheid. God kan, wanneer ons nie self kan nie.

Kan jy al hierdie sewe eienskappe in jou eie lewe insleutel? Dan sal John Piper se woorde in jou lewe waar word: “God is most glorified when we are most satisfied in Him.”

Here, ek sien nou dat my eie tevredenheid nog soveel te kort skiet. Help my asseblief om al sewe bostaande eienskappe in my lewe uit te leef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Ek kan maar net ons Here vra om my in alle omstandighede met alles tevrede te maak. Die lewe druk soms kwaai, maar gee asseblief dat ek tevrede sal wees met die dinge wat ek nie kan verander nie. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.