Gedagte vir die dag: Sodat niks my onderkry nie

see_brug_sonsondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Maak die wysheid jou metgesel. (Spreuke 4:6)

Ek dink te veel mense verwar wysheid met spiritualiteit. Wat my betref, is spiritualiteit nie ’n formule nie en beslis ook nie ’n toets nie. Spiritualiteit, en ek verbind dit beslis met wysheid, is nie ’n kwalifikasie nie, maar eerder ’n konneksie. ’n Konneksie met die Woord en wat ons daarin leer, asook met die mense wat regtig die Woord uitlewe in elke dag se bestaan.

Ek het ophou strewe na perfeksionisme en in plaas daarvan kyk ek op na die God in wie ek glo, my Skepper, wat altyd teenwoordig en dieselfde is, en verstaan waarom ek sommige dae net “dom” is.

Ek het geleer dat wysheid te doen het met God wat teenwoordig is in my lewe. Dat dit ook gaan oor Hom wat altyd daar is wanneer ek worstel met ’n probleem. En dit gaan ook oor God wat teenwoordig is wanneer ek suksesvol en voorspoedig is. En dít het my lewe omgekeer!

Daar is soveel teenstellings in die lewe dat dit vir my oukei is om soms te twyfel, te glo, te hoop, mismoedig te raak, lief te hê en soms selfs agterdogtig te raak. En dis net menslik om te vertrou en ook te wantrou.

Ek onthou egter steeds dat ek God se skepsel is met ’n ongelooflike kapasiteit vir voluit lewe. Daarom sluit die wysheid waarin ek glo ook in dat goedheid en guns my deel is in hierdie lewe. Ek aanvaar die feit dat God se seën uiters nodig is in my daaglikse doen en late.

Die Woord het my geleer dat die wysheid waarna ek streef, my beskerm, my gefokus sal hou en my gedurig sal herinner aan my lewensdoel.

Dankie, hemelse Vader, dat die wysheid wat ek van U ontvang my help dat niks my onderkry nie, en wanneer ek soms moet draf en haastig is, ek nie sal val nie. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Connie ·

Dankie dit is so waar. Perfeksionisme is so verkeerd. Ons het net God se genade en dit is genoeg om jou deur die dag te dra.

Dorothy ·

Baie dankie vir die kos vir my siel. Dis wyse woorde. Amen

Sakkie ·

Voeg daarby insig dat God alomteenwoordig is wanneer jy alleen huil, wanneer jou geliefde siek is en wanneer jy snags wakker lê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.