Gedagte vir die dag: Soek eers die belangrikste

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: Matteus 6:24-33

Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (Matteus 6:24, 33)

Daar is dosyne dinge wat die hedendaagse mens as allerbelangrik ag. Ongelukkig is ons prioriteite nie altyd reg nie. Dit is ongelooflik hoe baie tyd daar bestee word aan materiële dinge, hoe hard daar gewerk word om ’n topsalaris te verdien, hoeveel geld uitgehaal word om ons kinders net die beste te gee.

Jesus praat hieroor in sy Bergrede: ’n Mens kan nie vir twee base tegelyk werk nie, sê Hy. Jy sal óf die geldgod óf die ware God aanbid. En die heel belangrikste van alles is dat jy eers God se koninkryk moet soek – eers dán sal jy al daardie dinge waarna jy so hard streef daarmee saam ontvang.

Johan Heyns skryf in Wie fyner maal: “Daarom is die geheim om te midde van al die dinge rondom my boontoe te kyk en van dáár af terug te kyk na my lewe, dan sien ek beter en verstaan ek beter.”

Kyk vanjaar elke nuwe dag op na God en vra Hom om jou te leer om eerste dinge eerste te stel, sodat jy met sy wysheid wat jou lei seker sal weet wat werklik belangrik is.

Vader, vanjaar wil ek elke dag opkyk na U, sodat U self vir my kan leer hoe my prioriteite moet lyk. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

deon koegelenberg ·

Die skrifgedeelte vandag Soek eers die koninkryk van God is absoluut waar en in my eie lewe oor en oor bewys . Ek het soms al amper vergeet van iets waarvoor ek gebid het en wanneer dit soms langer as n jaar duur en dan gebeur, dan eers besef ek dit is in antwoord op hierdie skrif want God weet wat waar en wanneer dit die beste is vir ons . Dan kan ek maar net kinderlik voor God my hoof laat sak en se Dankie Jesus U ken my so goed

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.