Gedagte vir die dag: Soek jy na vrede?

wolke_berg_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. (Romeine 5:1-2)

Om kind van God te wees spel vrede. Die vrede wat God bied, is anders as die soort vrede wat die wêreld verkondig. In niegelowiges se oë kan ’n mens slegs vrede ervaar as dit altyd goed gaan met jou, of wanneer jou bankrekening sterk staan.

Goddelike vrede behels egter iets anders: dit is ’n sielerus wat oor jou spoel al val die wêreld om jou inmekaar. Dit is ’n rustigheid wat binne jou gemoed heers, al woed ’n storm om jou of al teister siekte jou. Dit is ’n vaste vertroue dat God in beheer is te midde van onsekere omstandighede. Dis kalmte al heers chaos om jou. Het jy al gewonder hoe kry ’n mens dié soort vrede? ’n Mens kry dit slegs wanneer God by jou inwoon en omrede Jesus die prys vir jou sonde aan die kruis betaal het.

Wanneer ’n mens mooi daaroor dink besef jy dat wêreldse vrede skynvrede en vreugde is, want daar is soveel mense wat alles het en met wie dit uitstekend gaan, maar wat steeds worstel met ’n enorme onrustigheid in hul gemoed. Om nie eens te praat van al die sielsongelukkige rykaards wat daar in die wêreld is nie.

In vandag se teksgedeelte verklaar Paulus dat daar vrede tussen ons en God is deur dit wat Christus vir ons gedoen het. Om vrede met God te hê, beteken dat jy met Hom versoen is. Dit sê dat daar nie meer enige vyandigheid tussen jou en Hom is nie, want jou sonde staan nie meer tussen julle nie.

Ek wil jou vandag uitnooi om al jou sorge en begeertes vir die Here in gebed te gee, Hy kan vir jou rus gee wat jou bekommernisse betref. Net God kan die storm in jou binneste stil maak, jou rustelose hart laat bedaar.

Augustinus het gesê: “Die hart van die mens soek na ewigdurende vrede en geluk – U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tom ·

Die Vader moet ons help want ons boere word uit gemoor net HY kan ons vokome vrede gee amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.