Gedagte vir die dag: Soek jy vrede of jou eie sin?

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. (Hebreërs 12:14-15)

Ai, konflik kan so maklik losbars die oomblik wanneer mense mekaar misverstaan, iets onnodig sê of verskillend oor sekere sake dink. Hierdie soort gebeure kan menseverhoudinge vernietig en dit is baie hartseer, want God verwag van ons om vredemakers te wees. Jesus sê in Matteus 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Vandag se teksgedeelte beklemtoon die gedagte verder en verklaar dat as ek en jy besig is om ons vir vrede te beywer, ons eintlik met ’n heilige lewe besig is. Anders gestel: As jou verhouding met God reg is, sal jy vrede najaag en soek wanneer dit by jou verhouding met mense kom.

Om vrede na te jaag is makliker gesê as gedaan, veral as iemand jou leed aangedoen het. Dan is ons natuurlike instink eerder om te vergeld. Die Heilige Gees stel ’n mens egter in staat om ’n vredesoeker te word. Hy is ons “Parakletos” uit Grieks vertaal “Helper” wat ons toerus om brûe te bou en nie mure nie. Wanneer God sy dwingende liefde vir mense in ons hart uitstort, raak dit vir ons makliker om vrede te soek. Dan word ons meer geduldig, ontwikkel begrip vir ander, is nie onbeskof nie en soek nie gedurig eiebelang nie.

Die Hebreërskrywer gaan voort en sê: “Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” Verbittering is soos ’n klein worteltjie wat uiteindelik ’n yslike boom word. Dit neem later jou hele menswees oor en weerhou jou om jou volle potensiaal te bereik. Bitterheid bederf uiteindelik alle persoonlike verhoudinge. Selfs medici waarsku deesdae dat ons versigtig vir bitterheid moet wees, dit kan ons gesondheid aantas.

Vra God sommer nou om jou te help om ’n vredemaker te wees. Dit is net die Heilige Gees wat jou kan help om vrede te maak en dreigende bitterheid in die kiem te smoor.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Here opnuut kom kniel ek by U voete ,neem asb my lewe onder U bestuur en laat bitterheid nie wortelskiet nie. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.