Gedagte vir die dag: Soek na God in sy Woord

Bybel

Argieffoto.

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. (Hebreërs 4:12)

Ons lewe is heel dikwels een groot gejaag en die laaste ding waarvoor ons krag in die aand het of vroegoggend wanneer kinders by die skool moet uitkom en ons vir werk regmaak, is om tyd aan God se Woord af te staan. Op goeie dae sal ons vinnig ’n Bybeldagstukkie soos dié een wat jy nou lees, deurwerk, maar ons kom selde daarby uit om “God se rou woord te eet” en dit te oordink, soos die psalmdigter dit stel. Ja, ek is ook baie dae hieraan skuldig. Ek het egter gevind die tye wanneer ek moeite doen om God in sy Woord op te soek, openbaar Hy Homself aan my op baie besonderse maniere. Moet nooit die kragtige werking van God se Woord onderskat nie!

In die Bybel is daar 66 boeke wat geskryf is deur meer as 20 skrywers wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. Die eerste manier hoe ons na God soek, is deur ons Bybel te lees en te bestudeer. Hoe meer dit gelees word, hoe meer sal dit ons gedagtes vernuwe. Ons gedagtes moet deur God se Woord herprogrammeer word. Gemors in, gemors uit! Woord van God in, Woord van God uit! Wanneer ons tyd aan die Skrif bestee, transformeer Hy deur sy Gees ons lewe.

Vandag se bronteks roep ons op om op die kragtige Woord van God ag te slaan. Die Hebreër-skrywer beklemtoon dat dit lewend en kragtig is. As jy met die Bybel besig is, het jy nie maar net met dooie letters op papier te doen nie, maar dit bring jou voor God.

Die Bybel werk ontblotend, dit ruk jou maskers af en stel jou in staat om na jou lewe te kyk soos God jou sien. Nes ’n dokter met sy operasiemes iemand se borskas oopsny, só sny God se Woord jou lewe oop. Nie om jou dood te maak nie, maar sodat jy kan agterkom waar en hoe jy tekortskiet.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.