Gedagte vir die dag: Soek na God se wil

wyn_plaas_stiltetyd.jpg

Foto: italiangoodnews.com

Lees: Hosea 10:12-15

Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ’n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet. (Hosea 10:12)

In die tyd van Hosea het Israel totaal van God weggedwaal. Hulle het hul Verbondsgod verruil vir die vrugbaarheidsgodsdiens van die heidene. Tog het Hy sy volk nie vergeet nie. Die profeet Hosea ontvang ’n pragtige belofte van God: As mense volgens sy wil sal saai, sal hulle sy liefde as opbrengs ontvang en Hy sal weldade oor hulle uitgiet.

Is jy al bereid om God se wil te gehoorsaam? Miskien het jy die laaste ruk ook stadigaan van die Here weggedwaal en is jou verhouding met Hom nie meer so kerngesond soos in die verlede nie. Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit die regte tyd om weer ’n slag na God se wil in jou lewe te vra en erns daarmee te maak. Miskien is jy skrikkerig dat God se wil dinge sal insluit waarvoor jy nie regtig lus is nie. Daar is ’n anonieme aanhaling wat lui: “Die wil van God sal jou nooit neem waar die genade van God jou nie sal bewaar nie.” Indien jy bereid is om God se wil te gehoorsaam, geld Hosea se belofte ook vanjaar vir jou: Dan sal jy in die jaar wat voorlê God se liefde elke dag in jou lewe ervaar. Hy sal kom en sy weldade oor jou lewe uitgiet. Maak dit vanjaar een van jou Nuwejaarsvoornemens om na God se wil te soek. Raadpleeg Hom voordat jy enige besluit neem.

Here, ek wil graag vanjaar u wil soek en dit gehoorsaam. Dankie vir die belofte dat u liefde en seën dan elke dag by my sal wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alet Viljoen ·

Amen!!!!Baie dankie vir die pragtige gedagte vir die dag.Geseende Sondag vir julle.Groete daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.