Gedagte vir die dag: Soekers na geluk

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Lees: Spreuke 8:17-34

Wie elke dag reg wil leef, is baie gelukkig. Wie elke dag probeer om die regte dinge te doen en te sê se vreugde ken geen perke nie. Wie die wysheid sy eie maak, het die lewe gevind. Die Here is lief vir hom. Wie die rug vir die wysheid draai, vernietig homself. (Spreuke 8:34-36, Die Boodskap )

Alle mense is ten slotte soekers na geluk, en veral aan die begin van ’n nuwe jaar wonder ons of die jaar wat voorlê vir óns ’n gelukkige jaar gaan wees. ’n Mens kan egter op die verkeerde maniere geluk najaag. Ons soeke na geluk ry soms ons waardering vir die dinge wat werklik waarde het, in die wiele. Andy Stanley skryf in ’n tydskrifartikel dat ons op die regte manier na geluk moet soek. Wanneer geluk in die een rigting loop terwyl wysheid, waarheid, integriteit en gesonde verstand in ’n ander rigting wys, doen intelligente mense baie dwase dinge. Hier ná 60 is sommige vroue sielsongelukkig wanneer hulle in die spieël kyk en daagliks nuwe plooie raaksien. Dit raak ook ’n al hoe bitterder pil dat moderne modes net vir latlyfies ónder 40 ontwerp word!

Die Spreukeskrywer gee in vandag se kernverse vir jou ’n aanduiding hoe jy vanjaar werklik gelukkig kan wees: Dit gaan van jou vra om elke dag reg te leef, om hard te probeer om die regte dinge te doen en om noukeurig op jou woorde te let. Dit alles, terwyl jy vashou aan God se wysheid wat vir jou in sy Woord uiteengesit word. Wil jy gelukkig wees in die nuwe jaar wat voorlê? Anker dan vanjaar jou gelukkigmakers aan God.

Vader, maak U dit asseblief vanjaar vir my moontlik om dié dinge wat my gelukkig maak aan U te koppel, en nie langer toe te laat dat onbelangrike dinge my van my geluk beroof nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.