Gedagte vir die dag: Soet in die mond

 soet_heuning_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Openbaring 10:10

Ek het toe die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, was dit bitter in my maag. (Openbaring 10:10)

Daar het wêreldwyd ’n nuwe tendens ontstaan: kook programme. Skielik wil almal kook; dus word potte en panne uitgehaal, resepteboeke afgestof en word daar met allerhande soorte geregte geëksperimenteer.

In Openbaring 10:10 lees ons van ’n heel andersoortige gereg. ’n Engel, wat met een voet op die land en die ander voet in die see staan, hou ’n boekrolletjie in sy hand – die Woord van God. Johannes kry opdrag om die boekrolletjie te vat en dit te eet. Die engel gee die boekrolletjie vir hom, maar waarsku dat dit soet sal proe in die mond en bitter sal wees in die maag. Ja, die Woord is maklik om te hoor, maar baie moeilik om te doen.

Om God se Woord te doen, is nie die maklikste opdrag nie. Gelowiges het gelukkig die Heilige Gees wat in ons woon. Hy help ons met hierdie opdrag; Hy gee vir ons die visie om die Woord te leef.

Hierdie vers is egter ook ’n sendingopdrag. Met die Gees se hulp kan jy die Woord uitdra. Onthou, jy is ’n lewende teks; jou lewe vertel ’n storie. Dit reflekteer die Woord deur die krag van die Heilige Gees.

Ons mag nie meer stilbly nie. Ons moet die verhaal van Jesus deel met elkeen wat wil hoor, maar ook met dié wat nie wil hoor nie. Eksperimenteer met die hulp van die Gees. Verander die manier hoe jy die Woord versprei, soos jy ’n gereg sal verander. Dit gaan nooit maklik wees nie. Dit is en bly ’n moeilike opdrag. Maar met die krag en hulp van die Heilige Gees sal jy weet wat om te sê, hoe om dit te sê en wanneer om dit te sê.

Here, maak my bewus daarvan dat u Woord soet smaak in die mond, maar bitter is in die maag. Help my om u Woord met erns uit te dra. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.