Gedagte vir die dag: Sonder hoop

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. (Efesiërs 2:12)

Efese in Klein-Asië was ’n belangrike handelstad. Paulus het Efese die eerste keer tydens sy tweede sendingreis besoek en het tydens sy derde reis drie jaar daar gebly. Die evangelie is so goed ontvang dat die godin Artemis se tempels begin leegloop het en die goudsmede wat haar beeldjies gemaak en verkoop het, se sakeondernemings begin skipbreuk ly het.

Paulus moes vertrek, maar die gelowiges was reeds as ’n groep gevestig. Jode, wat as gevolg van die ballingskap oor die hele antieke wêreld versprei was en gevolglik losgeraak het van hul godsdiens, sowel as Grieke wat afgode soos Artemis aanbid het, het tot bekering gekom. Die verbond wat die Here met Abraham en Israel gesluit het en wat in Jesus volbring is, het vroeër by hierdie mense verbygegaan. Hulle was eers sonder ankers, sonder enige hoop, uitgelewer aan onsinnige afgodediens. Maar hulle het Jesus aangeneem as hul Verlosser en so deel geword van sy familie, mense met nuwe vooruitsigte.

Het jy al ver van God gevoel? Was jy al in ’n vreemde land tussen heidene wat allerhande afgode aanbid? Was jy al ingetrek by ’n groep wat jou geloof sodanig ondermyn het dat jy losgeraak het van jou kerk en van Jesus? Op watter soort toekoms het jy toe jou hoop gevestig?

Hemelvader, ek bid vandag vir almal wat hul hoop vestig op Jesus. Dankie vir internetkerke en selfoonbediening wat mense van ver af nadertrek. Ons dra die mededelers van hoop aan U op en dank U wat die hoop vir almal, sonder aansiens des persoons, so oorvloedig skenk.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.