Gedagte vir die dag: Sonder raad

see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Foto: Christo Brits

Het ek nog die krag om dit uit te hou? Kan ek nog geduldig op my einde wag? Self is ek tot niks in staat nie. Ek weet nie meer raad nie. (Job 6:11, 13)

Lees Job 6:1-13

In hierdie hoofstuk het Job regtig die einde van sy uithouvermoë bereik. “As my bittere ellende maar geweeg kon word, as die ongeluk wat my getref het, op ’n skaal gesit kon word, sou dit swaarder weeg as die sand van die see” kla hy (v. 2-3). Uiteindelik kom hy tot die gevolgtrekking dat sy eie krag gedaan is; dat hy self niks aan sy haglike omstandighede kan doen nie; dat hy glad nie meer raad weet nie.

Indien jy vandag ook aan die einde van jou eie uithouvermoë gekom het, is God nog altyd daar vir jou. By Hom is wysheid en raad te kry as jy nie meer raad het nie. Hy wil vir jou sy wonderwerkende krag kom aanbied as jou eie krag opraak. Neem gerus die pragtige belofte in Psalm 32 vir jou: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde” (v. 8, 10).

God kom bied vandag vir jou sy raad en liefde aan om jou moedeloosheid te verdryf. Laat Hom toe om dit vir jou te doen.

Hemelse Vader, U weet hoe moedeloos ek vandag voel. Dankie vir die seker wete dat U steeds daar is vir my, dat u krag my ondersteun wanneer my eie opraak en dat ek by U raad kan kry as ek nie meer raad het nie. Omvou my nou met u liefde. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.