Gedagte vir die dag: Sondeslawe

 breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Johannes 3:2-7

Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem … (1 Johannes 3:5)

Ja, ons weet dit, Johannes. Ons weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem. Ons weet ook dat ons met alle mag vasklou aan daardie sondes wat Hy kom wegneem het. Soos dit by bedorwe brokkies hoort, gryp ons dit terug en druk dit teen ons bors en roep uitdagend uit: Mýne!

Ons doen moeilik afstand van ons troetelgewoontetjies. Ons het te gewoond geraak daaraan. Té tuis daarmee om dit nog as sonde te herken en daarvan ontslae te raak. Ons het sondeslawe geword. Verslaafdes.

Dit alles bou ’n muur tussen ons en God, en tussen ons en ons medemens. Agter dié muur kan ons dan rustig ons bose planne maak, klippe versamel om te gooi, skinderstories uitdink om te versprei. Hier kan ons wegkom met die besoedeling van gees en liggaam wat ons onsself na hartelus aandoen. Hierdie wegkruipplek is ook ideaal vir selfbejammering en selfbedrog; daar is immers niemand binne sigafstand wat ons kan reghelp nie.

Hoe dan nou gemaak met Johannes se stelling dat Jesus én sy volgelinge rein is? Wat sou dit vir dié volgelinge beteken? Dalk om oop en bloot lief te hê? Soos Hy, sonder skans en sonder skroom?

Dan moet ons ook weet dat Hy nooit gelukkig sal wees met ons muurbouery nie. Hy sal dit steen vir steen afbreek, die skeiding ophef, die sonde wegneem, die verhoudings herstel. Sodat ons vry kan kom. Bevry van onsself, om Hom en ons medemens met ’’n onverdeelde hart te kan liefhê.

U is my Bevryder. U maak die duiwelswerk in my tot niet. Ek loof U daarvoor.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.