Lees Handelinge 9:36-43
… Petrus … het … gekniel en gebid … en gesê: “Tabita, staan op!” (Handelinge 9:40)
Dit klink nogal na ’n Jesusstorie hierdie. Na iets wat Hy sou gedoen het én die manier waarop Hy dit sou doen: die gebed, die opdrag dat die gestorwene moet opstaan. Bybellesers sal hierdie wonderwerk herken; hulle lees herhaaldelik hoe Jesus sulke dinge doen.
Nou is dit Petrus. Die een aan wie Jesus vroeër gesê het: “Pas my skape op” (Joh 21:16). Die einste Petrus wat een van dié was oor wie Jesus die Heilige Gees geblaas het (vgl. Joh 20:22).
Dit is dus nie vreemd nie: Jesus se werk word deur sy dissipels voortgesit. En dan juis deur hóm, die man wat reeds vroeër vir groot dinge uitgesonder is. Dit is immers Petrus van wie Jesus gesê het hy is die rots waarop Hy sy kerk sal bou (vgl. Matt 16:18).
Ons mag Petrus nie geringskat nie. Al het hy vroeër grootskaals drooggemaak (dink maar aan Lukas 22:61 se kraaiende haan; onthou tog hoe Jesus hom op ’n keer – Markus 8:33 – “Satan” genoem het) en al was hy ’n stadige leerder oor hoe dinge in die koninkryk werk (vgl. Hand 10:34).
Petrus was, ten spyte van al sy baie foute, ’n Jesusvolgeling. Mettertyd het hy baie van sy maniertjies afgeleer en mooi begin oplet wat sy Here doen en hoe Hy dit doen. In die loop van die jare het hy selfs geleer om sy verraderlike tong in toom te hou en sy Meester na te praat.
Ja, Jesus moes sekerlik hard werk om Petrus te maak wat hy toe wel geword het. En straks sal Petrus saamstem dat dít die grootste wonderwerk is waarby hy ooit betrokke was: sy eie opwekking uit ’n doodsbestaan.
Verloor tog nooit moed met my nie, Here! Leer my, wys my, hou aan met my.