Gedagte vir die dag: Speel klaar met twyfel

IMG_1266.jpgMaar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt 14:30-31)

Wat het vir Petrus laat twyfel? Dit gaan oor geloof. Om te twyfel in dit wat jy glo. Die vraag is dus eintlik wat is die dinge wat jou geloof in die spervuur bring. Maar kom ons kyk eers na Petrus se geloofsreis … en sy geloofsinsinking.

Wanneer Petrus agterkom dat dit regtig Jesus is wat op die water na hulle toe aangestap kom, het dit vir ’n geloofsontploffing gesorg. Hy het soveel vertroue in Jesus gehad dat hy dit selfs (dalk so ’n bietjie voorbarig) gewaag het om Jesus uit te daag om ook vir hom die vermoë te gee om op die water te kan loop. Hy het geglo Jesus kan dit doen. En toe Jesus aan sy versoek toegee, klim hy dadelik oor die skuit se rant … en hy loop op die water!

Maar toe gebeur daar iets wat sy merkwaardige geloofsdaad in die wiele ry. Sy aandag word vanaf Jesus na die stormsee verplaas. Dis die realiteite van die lewe. ’n Mens kan tog nie die feite verontagsaam nie. En as jy ’n rapsie verder dink, sal jy moet toegee dat dit onmoontlik vir ’n mens is om op water te loop. Want dis reg, ’n mens kán nie op water loop nie! Toe sink Petrus.

Bly jy maar net op Jesus gefokus!

Jesus help hom op wanneer hy wanhopig uitroep: “Here, red my!” Dit was bo alles ’n geloofsroep. En dit is wat geloof eintlik is: om volledig van God afhanklik te wees, selfs ten spyte van die moeilikste omstandighede. Petrus het getwyfel omdat hy sy fokus van Jesus verskuif het na omstandighede. Geloof is om op Jesus te bly fokus ten spyte van omstandighede.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.