Spesiale lappoppe vir Geloftedag

‘n Voorbeeld van een van die spesiale lappoppe vir Geloftedag. Foto: Verskaf.

Op hulle oudag speel hulle weer pop. In die Pretoriase middestad het 20 oumas weekliks bymekaargekom om spesiale lappoppe vir Geloftedag te maak.

Terwyl die een die pop se maag toewerk nadat dit vol dons gestop is, vleg die ander die pop se hare. Nog een borduur die pop se oë, neus en mond met naald en wol. Dan help hulle mekaar om die pop aan te trek. Een hou vas terwyl die ander versigtig haar rokkie, broekie en kappie aantrek.

“Die doel van die Gelofte-lappop is om as ’n naamdraer kinders te herinner aan die Gelofte en aan die tyd waarin ons voorouers geleef het. Tydens die Groot Trek is poppe met die hand gemaak en aangetrek met oorskietlap van die meisies se klere. Die meisies was nooit sonder ’n pop nie. Poppe kon nie op die Groot Trek gekoop word nie en daarom is daar lappoppe gemaak waarvan daar vandag nog pragtige voorbeelde in ons museums te vinde is. Lappoppe is deel van kindwees. Vanaf die Voortrekkerdae toe die pop gemaak is van strooi tot die hedendaagse moderne poppe. Elkeen van die poppe is vernoem na ’n ouma, ’n vriendin of ’n tannie,” verduidelik Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Marianda Schlebush sê  hierdie projek het nie net ’n kreatiewe werksomgewing geskep nie, maar ook drie niewinsgewende organisasies laat hande vat. Foto: Verskaf.

“Hierdie Gelofte-lappoppe lyk soos en is vernoem na Voortrekkerkinders. Die Gelofte wat afgelê is by die Slag van Bloedrivier is sorgvuldig aan haar vasgemaak – sodat die onthou van ons geskiedenis ook aan ons kinders oorgedra word. Daar is ’n spesiale briefie by wat mamma of ouma kan skryf om ook haar ‘onthou’ na te laat aan die jonger geslag.”

Volgens Schlebush het hierdie projek nie net ’n kreatiewe werksomgewing geskep nie, maar ook drie niewinsgewende organisasies laat hande vat. Die FAK is ’n Afrikaanse kultuurorganisasie sonder winsbejag, die Blommefonds bied verblyf aan behoeftige bejaardes en Eleos ondersteun minderbevoorregte gesinne in die weste van Pretoria deur hulle te bemagtig met vaardigheidsprogramme.

“Dit het nie net ’n finansiële voordeel ingehou vir almal wat daarby betrokke was nie, maar ook ’n kreatiewe omgewing geskep, terwyl almal hope pret gehad het.”

Afgesien van die oumas by die Blommefonds se Union Park-woonstelle in Arcadia, Pretoria, wat die poppe aanmekaargesit het, het nog ’n ouma, Vironica Roos, die poppe se rokkies, broekies en kappies gemaak sodat sy na haar kleinkinders kan omsien. ’n Mamma, Grizelda Snyders, het die poppe uit lap gesny, aanmekaargewerk en hulle wolhare vasgewerk sodat sy weer met die ekstra inkomste voedsame kos vir haar vierjarige dogtertjie kon koop.

“Dit bring die kind in my weer uit. Dis té heerlik,” sê Elsa McClean (81). Foto: Verskaf.

“Dit bring die kind in my weer uit. Dis té heerlik,” sê Elsa McClean (81), ’n inwoner van die Blommefonds se Union Park-woonstelle in Arcadia, Pretoria.

Nog ’n inwoner, Poppie van Niekerk (70), het agt poppe gemaak al het sy nog nooit vantevore naaldwerk gedoen nie.

Bestel vandag jou stukkie “onthou” teen R250. Prys sluit koerier uit.

Die Gelofte-lappoppe sal op 16 Desember te koop wees by die Geloftefees by die Voortrekkermonument, waar dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, die massa-erediens om 08:00 sal lei. Die hekke open reeds om 07:00, waarna voorsang teen 07:30 sal volg. Johan Vorster, wat die “Geloftelied” geskryf het, sal ook tydens die Geloftediens die lied sing.

Ná die erediens sal daar gratis ysies en koffie by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin verskaf word.

Dié poppe sal ook by die Geloftefees by Watervalsrivier in Burgersfort, Mpumalanga, en by die Suikerbosrand Geloftefees in Heidelberg, Gauteng, beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda van Mosselbaai ·

Ek sien julle gebruik dieselfde patroon wat my ma (nou 93) gebruik het.
Dit is verskriklike harde werk om dit te maak.
My 2 oudstes het gekry en die 2 jongstes opgestopte diere!

‘n Baie mooi & prysenswaardige projek – sterkte daarmee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.