Spirituele intelligensie kan SA red

(Foto: Ben White/Unsplash)

Deur Elma Cornelius

Ons as Suid-Afrikaners woon in ’n pragtige land, in ’n goed ontwikkelde en moderne samelewing. Ons kan gemaklik leef omdat ons ook hier die voordele kan geniet van die ontwikkelende tegnologie en wetenskappe, soos beter en meer effektiewe kommunikasie, meer geleenthede om te reis, mediese ontwikkeling, industrialisasie, groter en beter geboue. Tog sal alle Suid-Afrikaners met my saamstem: ons leef in ’n siek wêreld!

Skakel jou radio of televisie aan, maak jou koerant oop, gaan in op sosiale media en jy sal sien tot watter mate ons samelewing deurtrek is van korrupsie, geweld, alkohol- en dwelmmisbruik, diefstal, moord, verkragting, molestering, gesinne wat uitmekaar geskeur word, eiendomme wat beskadig en vernietig word, kapings, leerders wat mekaar en onderwysers aanval, plaasmoorde, grondgrypery sonder enige vergoeding, seksueel-oordraagbare siektes, leuens en bedrog.

Ons land is buite beheer!

Wat is aan die gang in ons land? Ons blameer ons politieke leiers. Ons blameer sosiale media, televisie, veranderinge in die onderwys of wat ook al. Tog weet ons dat die mensdom selfgesentreerd geraak het en glad nie meer ’n gewete het nie. Die mensdom word nie meer van beter geleer in skole of in kerke of by die huis nie. Godsdiens het verdwyn – God, godsdiens en ons godsdienstige geskrifte is kantlyn toe geskuif. Magsmisbruik beheer ons land en dit maak ons gemeenskappe dood.

Hoe hanteer Suid-Afrika hierdie probleme? Misdaad neem toe en ons bou meer tronke. Diefstal en geweld bedreig ons en ons bou hoër heinings en installeer alarms. Leerders steel by skole en val mekaar aan en ons installeer kameras. Wanneer ons ongelukkig is met die stand van sake, val ons mekaar aan, persoonlik, op sosiale media en in die koerante. Ons betoog en beskadig eiendomme terwyl ons mag in eie hande neem. Dit is hoe Suid-Afrika poog om te oorleef. Ons behandel die simptome, maar aan die werklike probleem word nooit aandag gegee nie.

Waarom het ons soveel magsmisbruik in SA? In SA het die regering gepoog om, onder meer, ongelykheid, diskriminasie en konflik op te los deur ’n wet goed te keur wat godsdiensvryheid in ons land handhaaf. Elke Suid-Afrikaner het daarom die reg om enige godsdiens te beoefen of selfs geensins betrokke te wees by godsdiens nie. Elke Suid-Afrikaner het geloofsvryheid, maar godsdiensbeoefening mag nie inmeng met skole, loopbane, werkomgewings of die regering nie. Skole speel nie meer ’n rol in die vestiging en groei van godsdienstige kennis en geloof nie. Godsdiens is daarom deur hierdie wet kantlyn toe geskuif. Mense het hul eie gode geword, volg hul eie reels en neem mag in eie hande.

Die enigste manier om magsmisbruik te verhoed, is om ons mense weer opnuut bewus te maak van ’n oppermag buite hulself – hierdie bewustheid word genoem “spirituele intelligensie”. Ons almal is bewus daarvan dat elke mens ’n IK (intellektuele intelligensie) het, maar daarby ook emosionele intelligensie wat aandui of ’n mens in voeling is met jou eie emosies en dié van ander.

Spirituele intelligensie word deur kenners beskou as die mees fundamentele van alle vorme van intelligensie wat dui op die mens se vermoë om met wysheid en deernis op te tree en so innerlike en uiterlike vrede te handhaaf ten spyte van omstandighede – die gebruik van spirituele inligting om probleme op te los en ’n doel te bereik. ’n Spiritueel intelligente persoon erken die bestaan van ’n god en reik uit na ’n vorm van godsdiens wat die hulpbronne verskaf wat noodsaaklik is om hierdie god te leer ken en ’n goeie lewe te lei. Solank as wat die mens nie die bestaan van hierdie god erken nie, sal hy vir homself alle mag toeëien en enigiets doen om sy mag uit te brei.

In Suid-Afrika het dit ongelukkig die regering se verantwoordelikheid geword om hierdie siek samelewing te red. Dit is onregverdig teenoor ons regering, maar dit is ongelukkig die gevolg van die situasie dat godsdiens geensins meer ’n invloed het in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Al die probleme van immoraliteit, misdaad en onverdraagsaamheid het in die skoot van die regering geval en ons politieke leiers het die onmoontlike taak om die polisie te gebruik om misdaad te bekamp. Ons moet ons regering versoek om godsdienstige betrokkenheid aan te moedig en die rol van godsdiens in die hantering van probleme te erken.

Die Christendom bied onderrig en geleenthede aan vir die ontwikkeling van spirituele intelligensie. Christene glo dat die Bybel die gesagvolle woord van God is waarin Hy aanspraak maak op alle mag in die heelal. Die Bybel leer dat toegewydheid aan God sal lei tot liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die Bybel gee riglyne vir ’n lewe van omgee, liefde en onbaatsugtigheid en daarom kan dit ’n belangrike rol speel in die heelmaking van die samelewing.

Net soos die Christendom, glo ek dat aanhangers van ander gelowe ook sal getuig hoe hulle godsdienste onderrig en geleenthede kan bied vir die ontwikkeling van spirituele intelligensie. Godsdiensgemeenskappe moet Suid-Afrika opnuut bewus maak van die voordele van spirituele intelligensie – dat spirituele intelligensie SA kan red van vernietigende gedrag wat voortspruit uit selfsug en magsmisbruik. Hierdie geloofsgemeenskappe moet die regering bystaan met onderrig en motivering in kerke, skole en besighede. Suid-Afrikaners moet aangemoedig word om te stem vir spiritueel intelligente leiers. Ons moet mekaar hoop gee in hierdie gewelddadige, korrupte en onmenslike wêreld waarin ons onveilig voel.

Spirituele intelligensie is wat ons nodig het in Suid-Afrika. Respek vir God en liefde vir mekaar sal diefstal, moord, verkragting, geweld, korrupsie, rassisme, diskriminasie en vele ander probleme beveg. Kom ons vra ons regering om hande te vat met ons geloofsgemeenskappe en hul ondersteuning te verwelkom sodat Suid-Afrika God kan dien en verantwoordelik leef.

Kom ons almal bid vir ’n beter Suid-Afrika!

  • Die skrywer is ’n dosent in die fakulteit teologie aan die NWU en hierdie skrywe is ’n uittreksel uit ’n artikel wat deur die skywer gepubliseer is in In die Skriflig 54(2), a2546 (2 June 2020).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piket ·

Dit is waar wat jy sê, maar onthou die Geloof in en vertroue op GOD moet nie verwar word met die spirituele intelligensie nie……

Androclus ·

AMEN! Kyk maar net na die parlement sittings Hulle begin sommer baklei in plaas van open met ‘n gebed.Alles is net ‘n gemors.

johan ·

Iemand wat in “‘n god” glo het totaal geen spirituele intelligensie nie. Inteendeel hulle lewe in duisternis. Net die wat in die God van die Bybel glo het die Lig, en die Heilige Gees lei hulle in ‘n toename van kennis.

Andries ·

ek maak beswaar teen die paragrafie wat begin ‘ander gelowe’. Laat ons ASB nie godsdiensvryheid met godsdiensgelykheid verwar nie. Daar kan net EEN GOD van Bybelse Waarheid wees

maria ·

Miskien moet ons eerde van Gods Kennis praat as Gods diens . Want aan Gods Diens begin daar so ‘n verkeerde konotasie geheg deur sommiges deesdae.

Regtigegtig ·

Ja kerke en christen ngo volg nie meer die woord of vrees God nie. Hulle doen wat die staat se hulle moet doen omrede solank as wat hulle die staat gehoorsaam hoef hulle geen belasting te betaal nie maar sodra hul die staat teegaan moet hulle al hul belasting betaal. Geld het hul god geword. Bid dat daar weer kerke sal wees wat God vrees en die woord in waarheid verkondig.

Pieter9 ·

Hierdie is regtig nie ingewikkeld nie. Geen teorie nodig. Is vir my altyd vreemd hoe ons ‘n ‘akademies’ met so ‘n eenvoudige ding soos geloof kan omgaan ên vermy word om die naam van Jesus Christus te noem.
Wat ons kort is Jesus die Christus! – lees die Bybel, alles is daar baie duidelik – daar is GEEN ander naam waardeur ons hierdie land kan omdraai nie. Ons lees alles behalwe die Bybel en dan wonder ons hoekom dit gaan soos dit gaan. Ons moet ons lewens onherroeplik aan die Here Jesus Christus oorgee en die Heilige Gees draai hierdie Land in ‘n dag om!

Yvonne ·

En hier gaan ons alweer….probeer die boodskap verstaan ipv dit uitmekaar trek met “slim” teorie…hene mense tog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.