Gedagte vir die dag: Splinterprobleme

twee stap_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie (Lukas 6:41)

Balke is swaar stukke hout wat gebruik word vir die nok van ’n gebou. ’n Splinter is ’n klein stukkie van ’n balk wat afgebreek het. Nou vra Jesus hoe iemand na ’n klein splinter in sy broer se oog kan kyk en selfs aanbied om dit uit te haal terwyl hy self ’n balk in sy oog het.

Die vraag is: Wie is hierdie oogarts wat aanbied om die splinter uit te haal? Jesus het hulle by meer as een geleentheid ’n naam gegee: skynheiliges. Dis ’n woord wat Jesus baie gebruik het om die skrifkenners en Fariseërs van sy dag te beskryf.

Dit is die mans wat gedink het hulle het al die wysheid en dat al die ander mense oningelig is. Dit is hulle wat gedink het hulle leef die naaste aan God en dat al die ander mense ver weg van God staan. Dit is hulle wat hulself op die skouer geklop het oor hul eie selfgeregtigheid voor God, en dan neergekyk het op al die ander wat nie so godsdienstig soos hulle is nie. Hulle was goed in hulle eie oë.

Ja, ’n mens kan goed lyk in sy eie oë, maar as hy nie nederig is nie, sien God hom met ’n balk in sy oog: die balk van selfregverdiging. Hy moet eers sy eie houding regkry, in nederigheid sy eie foute raaksien, en miskien voor Jesus se voete daaroor huil voordat hy die ander met die splinter in hulle oë kan probeer help. Trots moet plek maak vir nederigheid.

Selfregverdiging moet plek maak vir ’n besef van eie onvolkomenheid en gebrokenheid.

Ongelukkig word hierdie gedeelte dikwels gebruik om mense te ontmoedig om enigsins betrokke te wees by die splinter-uithaal-operasie. Dis nie wat Jesus sê nie. Hy wil ons nie ontmoedig om mekaar reg te help om van die sonde en verkeerde dinge los te kom nie. Maar ons moet eers ons eie foute raaksien en erken en daarna met nederigheid hulp aanbied.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.