Gedagte vir die dag: Staan op in ’n nuwe lewe

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe. (Rom 6:8, 11)

Om saam met Jesus gekruisig te wees beteken om dood te wees vir die sonde. Al die verkeerde dinge wat jy voorheen gedoen het, behoort nou iets van die verlede te wees. Jou ou natuurlike geaardheid en liefde vir die verkeerde het saam met Christus gesterf. “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe,” getuig Paulus in Galasiërs 2:19 en 20. Jy mag dus nie vassteek by Jesus se kruisdood nie, maar jy moet konsentreer op die feit dat Hy leef en dat jy sáám met Hom lewe. Nou het jy deel aan sy opstandingslewe en aan ’n intieme Vader-kind-verhouding tot God. Van nou af behoort jy as ’n splinternuwe mens elke dag voluit vir God te lewe.

Ongelukkig beteken dit nié dat jy van nou af sondeloos gaan wees nie. Tog is jy nie meer ’n slaaf van die sonde nie. Die sonde is nie meer jou baas nie. Wanneer jy sonde doen, weet jy dat jy verkeerd is en kan jy ’n U-draai terug na God maak. Hy is elke keer bereid om jou sonde te vergewe en jou met oop arms by Hom te ontvang.

Here Jesus, ek loof U vir die wonder om saam met U gekruisig te wees en nou voluit vir U te lewe. Wys my wanneer ek verkeerd doen en help my om gewillig te wees om my sonde te laat staan. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.