
Foto: pixabay.com
Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe, ’n opstandige nasie. Jy moet vir hulle sê wat Ek sê. (Esegiël 2:3, 4)
Israel is in ballingskap in Babilon. Hulle sondes het hul uit eindelik ingehaal. Hulle is moedeloos en verward. Dis toe dat die Here Esegiël, ’n priester, gestuur het om hulle te bemoedig. Die Here het hom toegerus deur vier opdragte aan hom te gee, deur vir hom (en vir ons) ’n Handboek vir Getuies van die Here in die hand te stop.
Hoofstuk een van die handboek se opskrif lui: Staan regop. Ek wil jou stuur.
Esegiël moes nooit getwyfel het dat God hom geroep en gestuur het nie. Die Here het in ’n visioen aan hom verskyn. En toe Esegiël platgeslaan op die grond geval het, het God met hom gepraat: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.” Gelei deur die Gees, het hy op sy voete gekom. Dat daar ook vir hom ’n moeilike pad gewag het, was duidelik. Die Here het hom na ’n opstandige gemeente gestuur; hardkoppige en moedswillige mense, ene dorings en skerpioene! Maar Esegiël kon moed skep: Die Here het hom gestuur. Hy kon met gesag optree, al sê die mense wat.
Dis ’n belangrike hoofstuk, ook vir ons. Ons moet baie seker maak van ons roeping. Eers as jy die Here regtig leer ken het, as die Heilige Gees jou oortuig het om regop te staan, is jy gereed. Want as jy die Here nie regtig ken nie, waaroor gaan jy praat? Om dit heel prakties te stel: By die trappie waar al die jongmense toustaan om in die sendingbus vir ’n evangelisasie-uitreik te klim, moet die leraar vir elkeen vra: Ken jy die Here? Behoort jy aan Hom? Indien nie, moet ons eers praat. Indien wel, welkom aan boord!