Gedagte vir die dag: Staan vas in die vryheid

vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Staan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie. (Galasiërs 5:1)

Om vrygemaak te wees van sonde en vestings is ’n wonderlike realiteit wat elke dissipel van Jesus kan beleef. Ons almal ken die wroeging en las wat sonde op ons lewe het, en om daarmee te breek is ’n kragtige getuienis van die werklikheid van Jesus in ons lewe.

Daar is niemand wat vryheid so geniet soos iemand wat regtig ’n gevangene was nie. Om jare lank aan dwelms verslaaf te wees en dan daarvan verlos te word is ’n baie kragtige getuienis. Vryheid is kosbaar. Paulus skryf in ons Bybel-teks van dag: “Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.”

Om vry te wees is iets wat dissipels van Jesus soos goud moet bewaar. As Jesus jou van wellus vrygemaak het, moenie weer voetjie-voetjie daarmee begin speel nie. Bewaak jou verlossing met ywer en vasberadenheid! Moenie toelaat dat jy weer deur sonde gevang en verslaaf word nie. Dan word die krag en bediening van God belaglik gemaak.

Een van die groot skades in jou lewe is ’n verlies van integriteit en respek vir jouself. As jy vrygemaak is en toe weer gewillig in dieselfde sonde betrokke geraak het, knou dit jou siel. Wanneer Jesus jou verlos het, kan geen uitwaartse kragte jou weer verslaaf nie. Net jy kan jou Vryheid vir slawerny verruil. Dit gebeur nie per ongeluk nie en dit gebeur nie in jou slaap nie. Dit gebeur omdat jy doelbewus God se logiese en liefdevolle perke oorskry. Dit kos so baie om van sonde se strikke los te kom; moenie jou verlossing goedkoop hanteer nie. Bewaar dit, koester dit en geniet dit.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Daar is groot verwarring en onkunde oor hierdie vryheid. Ons is vrygemaak van sonde, nie vry om te sondig nie! Die Heilige Gees woon nie saam met sonde nie. As jy werklik die Heilige Gees het, is jy ‘n nuwe mens wat al meer soos Jesus Christus doen en dink, jy hunker na die dinge van God, nie die dinge van die wêreld en die sonde nie.
“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word” 2 Korinthiërs 3:18

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.