Gedagte vir die dag: Staan vir wat reg is

OLYMPUS DIGITAL CAMERA2 Kron. 28:13 – Julle bring nie die gevangenes hier in nie.

“Om op te tree volgens die lig wat jy het, is amper die enigste manier om meer lig te kry,” het CS Lewis geskryf. Ons het nie al die antwoorde nie, maar ons het darem sommige antwoorde. En ons moet hulle gebruik. As ons stilbly wanneer dinge verkeerd gaan, word ons net so skuldig soos die skuldige. Veral in ʼn tyd waarin korrupsie algemeen is, soek die Here die mense wat gewillig is om te staan vir wat reg is.

Koning Agas het sy rug op die Here gedraai, en die gevolg was dat die Arameërs sy land binnegeval het en baie van sy mense weggevoer het. Daarna het Israel hom ʼn verpletterde neerlaag toegedien (2 Kron. 28:6) en twee honderd duisend vroue en kinders as slawe weggevoer. Hierdie mense se toekoms was donker, maar toe staan een man op vir wat reg is: die profeet Oded. Hy het vir Israel vertel hoe verkeerd dit was om mense uit hul eie ‘broedervolk’ as slawe weg te voer. Van die leiers het na hom geluister en toe ook standpunt daarteen ingeneem. Die uiteinde was dat die oorwinnaars die gevangenes behoorlik versorg het en na hul eie land toe teruggeneem het. God se woord het voete en hande gekry. Sondag was ons in die kerk, en die Here het daar vir ons opdragte gegee. Dink mooi na oor wat jy gehoor het. Die toets van Sondag se preek is wat ons Maandag doen. Miskien is jy vandag soos Oded wat moet praat oor iets wat verkeer is; miskien is jy soos die leiers wat God se woorde gehoor en dit gehoorsaam het.

Gebed: Here, maak my vandag getrou aan U.

Bron: Uit die Beek –Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.