Gedagte vir die dag: Standvastig in versoeking

Wolke_pad_be…t_Dykema.JPG

Foto: Reint Dykema

Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. (Jak 1:12)

Lees Jakobus 1:12-18

God is goed en regverdig, self kan Hy niemand versoek nie. “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie,” waarsku Jakobus in 1:13. Gewoonlik is dit dus ons eie sondige begeertes wat ons voor versoekings laat swig. Maar God kan wel die gevolge van die sonde omkeer. Hy kan die negatiewe omstandighede in jou lewe as’t ware ombuig sodat hulle uiteindelik tot jou beswil is. Tydens ’n jeugpreek het een van my man se kollegas ’n groep jongmense gevra oor watter gebeurtenis in hulle lewe hulle die dankbaarste is. Een meisie het geantwoord dat haar pa se siekte haar soveel nader aan die Here gebring het en dat sy Hom al baiekeer daarvoor gedank het.

Eers wanneer jy niks aan jou eie omstandighede kan doen nie en ontdek dat net God jou nou kan en sal help, leer jy om op God te vertrou. Daarna is jou verhouding met Hom ook baie inniger as tevore. Neem God op sy woord: bly standvastig en vertrou op Hom sodat jy die prys kan ontvang wat God belowe.

Hemelse Vader, ek bid dat U my sal help om standvastig te bly in versoekings, dat U my negatiewe omstandighede sal ombuig sodat dit tot my beswil sal wees. Dankie dat ek op U kan vertrou om my te help. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paula ·

Goeiedag ek wil graag net vertel hoe wonderlik God vir my is ek het borskanker nou vir n jaar my bors is afgesit en 8 kwaardaardige kliere is onder my arm verwyder ek het gemo gekry en bestraling het 24 Februarie klaargemaak en met my behandeling en operasies kan ek getuig het God my deur gedra ek het self hospital toe gery vir my behandelings en God het my nie een keer gelos ek is so dankbaar vir wat God in my lewe doen en ek moet se my siekte het my nader aan God gebring en van my n beter mens gemaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.