Gedagte vir die dag: Steen vir steen

vyeboom

Foto: Reint Dykema.

Soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou. (1 Tessalonisense 5:11)

’n Mens hoef nie in die konstruksiebedryf te wees om ’n bouer te wees nie. Julle kan bou aan ’n gesinslewe of ’n sosiale lewe. ’n Bankrekening of liggaamlike fiksheid. ’n Reputasie of goeie styl. ’n Stokperdjie of vakansieplanne. In die geharwar is dit maklik om te vergeet van God se opdrag om mekaar in julle huwelik op te bou.

Elke bemoedigende woord bou aan julle lewe saam. Vertroostende woorde is ’n redding tydens smart. Wanneer julle mekaar se vermoëns prys, gee julle mekaar moed om julle drome na te jaag. Teerheid en woorde soos “ek is lief vir jou” is ’n koestering te midde van ’n ongenaakbare, kritiese wêreld. Om God se waarheid te spreek, weerstaan elke aanval van die Bose. Julle woorde het die mag om hoop te gee en mekaar te help wanneer julle dit die nodigste het. Onderneem om mekaar deur bemoediging op te bou. Laat staan die vernietiging wat ’n kritiese, negatiewe gees veroorsaak. Laat God se liefde deur julle woorde vloei om vreugde en krag in julle huis te bring.

Here, leer ons om mekaar getrou te bemoedig. Maak ons oë oop om te sien hoe ons mekaar kan opbou. Dankie vir die geskenk van ons huwelik wat ons die geleentheid gee om die uitdagings van die lewe saam te hanteer. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.