Gedagte vir die dag: Stene in God se gebou

Olyfbome_Assisi.jpg

Foto: Annelize Brits

Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Petrus 2:5)

Christene moet die sonde agter hulle laat en geestelik groei en sterker word sodat hulle nie vir altyd kinders in die geloof sal bly nie, skryf Petrus.

Soos babas melk nodig het, het ons geestelike voedsel nodig sodat God ons vrugbaar in sy koninkryk kan gebruik. Deur die kennis van God se Woord groei ons tot volwassenheid.

Hierdie feit word mooi verduidelik met die beeld van ’n gebou. Die kerk bestaan uit lewende stene wat in een gebou saamgevoeg word. Ek en jy vorm deel van God se gebou. Ons behoort eensgesind te wees en een doel te hê, naamlik om heilige offers vir God te wees en ons lewens aan Hom toe te wy.

Ook jy is ’n lewende steen van God se gebou. Jy ís die kerk! Deur Bybelstudie en gebed moet jy tot geestelike volwassenheid groei, jou kant bring in jou gemeente en saam bou aan God se koninkryk. Doen jy dit al?

Here, dankie dat ek deel mag vorm van u kerk op aarde. Leer my om deur die bestudering van u Woord tot geestelike volwassenheid te groei. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.