Stille nag, heilige nag…

Foto: Pixabay

Jes. 9:1+5: “Die mense wat in die donkerte geleef het, sal ’n groot lig sien. Die lig sal skyn op almal in die land waaroor die dood ’n skaduwee gegooi het… Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Die profeet Jesaja was die Ou Testamentiese profeet wat die meeste profesieë oor die koms van Jesus, die Messias gebring het. Ons noem dit die Messiaanse profesieë.

Hierdie Messiaanse profesie in Jes. 9 is een van die bekendstes en is geprofeteer gedurende ’n tyd van ’n groot politieke krisis en oorlog in Israel. Dit was spreekwoordelik donker, nag.

Messiaanse profesieë het as ’n reël die situasie van die dag aangeroer, maar dit gryp duidelik ook verby die destydse krisis, die toekoms in, en spesifiek na die koms van die Messias.

Dit was “donker” vir Israel op daardie stadium, ongeveer 2700 jaar gelede, maar dit verwys ook na die geestelike duister waarin die mensdom verkeer en wat die koms van ’n Verlosser genoodsaak het. Hierdie geestelike donkerheid is die gevolg van sonde en die bose.

Dit word geredelik aanvaar dat die geboorte, die koms van Jesus, in die nag plaasgevind het. Dit was gedurende die nag dat ’n engel die aankondiging aan die herders gemaak het en ’n engelekoor op die velde van Betlehem gesing het. Ons praat van Kersnag, die nag toe die Kind gebore is. Dink maar aan die pragtige lied: “Stille nag, heilige nag…”

Jesaja sê dat in die donkernag van Israel asook van die mensdom, ’n “groot lig” gesien is. In vers 5 gee hy die rede vir hierdie groot lig – “Want ’n Kind is vir ons gebore…”.

Wat ’n verrassing dat die wyse waarop God hierdie lig, hierdie groot verandering teweeg sou bring, ’n kind is – die Kind in die nag, wat die wanhoop van sonde en smart sou kom verdryf! Dis geen toeval nie. Dit was die ontvouing van God se verlossingsplan – nie alleen vir Israel nie, maar ook vir die hele wêreld.

Foto: Pixabay

Hoe groot hierdie ingryping van God in die geskiedenis was, is vasgelê in die geskiedenis. Sedert die koms van die Kind word die wêreldgeskiedenis verdeel in vC en nC. As jy sou twyfel aan die historiese realiteit van die koms van hierdie Kind, kyk maar net na die datum.

God se ingryping in die geskiedenis van die mensdom, in die donker nag van menslike smart, was nie deur ’n geweldsdaad nie, nie deur ’n leërmag van sterk manne nie, maar deur ’n kind. ’n Kind uit ’n arm, klein dorpie in Judea.

Dit was die grootste en beste nuus wat die mensdom nog ooit bereik het. Dít het die engel in daardie nag ook gesê: “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou!” (Luk. 2:10)

God het sy skepping in Genesis begin deur heel eerste lig te skape (Gen.1:3). Die indringing van satan en sonde in God se wêreld het geestelike en morele duisternis gebring. God, wat met die skepping lig gegee het, het dit met die geboorte van Jesus ook geestelik kom doen. Soos die profesie in Jes. 9:1+5 sê, het God as’t ware “in die nag” gekom. Dis wat Kersfees beteken – Hy het gekom; Hy het die nag verlig… Dit is die onbeskryflike wonder van die Kersgebeure – dat ons kan sing: Stille nag, heilige nag!

Ja,  “Die mense wat in die donkerte geleef het, sal ’n groot lig sien.” God – die Kind, het die nag kom verlig. Hy het die nag van ons duisternis, die nag van ons nie-verstaan, die grou nag van ons angs en ons moedeloosheid, tot ’n Kersnag, ’n Heilige Nag, kom maak. Die nag toe die Kind gegee is. Tussen al die nagte van die geskiedenis, het hierdie één besondere nag ingeskuif – en dit het Kersfees geword!

Kersfees sê nie alles is reg nie. Kersfees sê wel:

  • Te midde van ons radeloosheid, het ’n wonderbare Raadsman gekom
  • Te midde van ons onmag, het ’n magtige God gekom
  • Te midde van ons alleenheid en bangwees, het ons ’n ewige Vader gevind
  • Te midde van al die geweld, misdaad en oorlog, het ’n Vredevors gekom.

Kersfees sê: Iemand anders, God sélf, het deel van ons verhaal geword, meer nog – Hy het dit Sy verhaal gemaak!

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Rubrieke, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.