Gedagte vir die dag: Stilte

Vrou_koffie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Wees stil en weet Ek is God!” (Psalm 46:11)

Die lewe is besiger as ooit. Die trapmeul waarop ons elke dag as verantwoordelike landsburgers klim, beweeg al vinniger. Dit vra al meer van ons om by te hou – om al die spreekwoordelike balle in die lug te hou. Ons moet afsprake nakom, sperdatums haal, rekeninge betaal en met familie en vriende connect. Ons moet oorleef. Daar is elke dag al meer roepstemme wat om jou aandag meeding – stemme in jou brein, hart en gedagtes wat jy nie afgeskakel kry nie.

Dan is daar ook nog tegnologie – Facebook, e-posse, WhatsAppboodskappe wat soos bondels wasgoed net nooit einde kry nie.

Mense staan in rye by apteke op soek na tonikums of bruistablette om hulle energie te boost. Mense gaan al meer dokter toe met siektes wat met uitbranding verband hou. Meer mense besoek sielkundiges, terapeute of spa’s in die hoop dat hulle hulle lewenslus sal kan herwin.

Ek het egter ’n gratis bruistablet ontdek wat my energie aanvul vir al die uitdagings op my lewensbord: stilte. As deel van my lewensberoep reis ek die land vol en tree gereeld as spreker op. Dit tap my energie. Ek het gevind as ek nie genoeg tyd in stilte deurbring nie, ek geïrriteerd en sonder sprankel raak.

In stilte by die Here herlaai ek my mensbattery en kry ek ware en diep rus vir my liggaam, gees, denke en emosies. Dit is ook in hierdie stilte dat die Here my snoei en onderrig, waar ek leiding en insig kry, waar ek antwoorde op my probleme ontdek, waar ek vernuwe word en waar ek my gawes en talente kan ontgin.

Dankie, Here, dat ek in u stilte kan herlaai en my energietenk kan vol maak.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Stilte…stilte…stilte…dit waar! Here my dink 3keer al met verskilde fone laat breek sodat Here te stilte kan ontdek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.