Gedagte vir die dag: Stiltetyd

berg_see_rotse_boekevat.jpg

Foto: A.Brits

My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan. (Deut 32:2)

Hoe ek opstaan, bepaal my hele dag. As ek die oggend haastig uit die bed spring en net vyf minute tyd het om my Bybel te lees en te bid, loop my hele dag van meet af aan skeef. Omtrent alles wat ek beplan, is ’n mislukking; ek is kort van draad en gejaagd; net mooi niks wil reg uitwerk nie. Maar as ek vroeg genoeg wakker word dat ek ’n uur alleen saam met God en sy Woord kan deurbring en my dag met Hom kan bespreek, loop alles reg. Ek is rustig en kan elke probleem wat op duik met God se wysheid en krag oplos. Hoe verder die dag verloop, hoe meer bewus word ek van God se teenwoordigheid ín my en óm my.

Jy kan ook in die jaar wat voorlê elke dag met selfvertroue en Godsvertroue binnegaan met die seker wete dat die dag vir jou ’n wendag gaan wees omdat jy vir God by jou het. Maar dan moet jy tyd maak vir God se onderrig – dan moet jy sy woorde toelaat om jou elke oggend soos dou te verkwik. As jy jou stiltetyd afskeep, gaan jy die res van jou lewe groot skade ly.

Hoe besiger jou dag gaan wees, hoe nodiger het jy jou tyd van stilte saam  met God. Die domste ding wat jy kán doen, is om jou stiltetyd af te skeep omdat daar te veel ander dinge is wat tyd van jou gaan verg.

Hemelse Vader, ek loof U vir die voorreg om elke oggend hersteltyd saam met U te kan inruim. Dankie dat die woorde uit u Woord my soos dou verkwik. Amen

Lees Deuteronomium 32:1-9

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.