Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die Here is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees? (Psalm 27:1)
Arthur Gordon het met ’n groot klomp kommer ’n dag lank langs die see gaan sit om sommer net God se teenwoordigheid te ervaar. Vir ure het hy net gesit en die natuur met al sy sintuie ingedrink. Verspeelde tyd, sou ’n mens kon sê. Totdat jy sien wat binne-in hom gebeur het; hoe die stilte sy eie kommer weggestreel het en hoe hy weer opnuut moed gekry het.
Ná sewe ure het Arthur opgestaan, ’n stok geneem en al sy probleme in die sand geskryf. Hy het lank daarna gestaan en kyk en toe omgedraai en sonder om terug te kyk, huis toe geloop. Hy het geweet wanneer die gety inkom, sal die branders elke geskrewe kommer wegspoel … Sy probleme het dalk nie verander nie, maar hý het! Hy het perspektief gekry oor die nietigheid daarvan teen oor die grootheid van sy Here.
Arthur se belewenis sluit aan by die woorde van William Blake: “Wanneer jy die wêreld in ’n sandkorreltjie sien en die hemel in ’n veldblom sien kelk, hou jy die ewigheid in die palm van jou hand.”
Skryf sommer net weer jou eie storie in die sand van jou hart, neem die mooi saam en los die res … sodat die hemelse getye dit kan wegspoel.
Ek is in die palm van u hand. Help my dit onthou, Vader.
Dit het vir my baie beteken,
Baie dankie