Gedagte vir die dag: Stres

boer-windpomp-plaas-reint-dykema-11.jpg

Foto: Reint Dykema

U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. (Ps 18:29-30, 33-34)

Ek kan nie onthou dat die woord “stres” in my skooldae al in gebruik was nie. Maar in ons tyd het dit ’n modewoord geword. Die ongelukkige feit is dat stres regtig ’n monster geword het. En dit het wel met ons lewenstyl te make.

Stres ontstaan wanneer ’n mens onder druk verkeer en dit nie sinvol kan verwerk nie. Met die hoë vlak van kompetisie by die werk en ook op ander terreine soos byvoorbeeld in professionele sport en selfs op sosiale vlak is dit nie vreemd dat mense onder die druk swig nie. Iemand het gesê dat die druk van buite kom, maar dat stres van binne kom. Dis die manier waarop jy kies om op die druk te reageer.

Ken Costa, skrywer van die boek God at work, het goeie raad vir die hantering van stres. Kry perspektief. ’n Mens raak so in beslag geneem deur jou onmiddellike omstandighede dat jy perspektief op die geheelbeeld verloor. Jou lewe bestaan nie net uit daardie klein kompartement waar jy stres ervaar nie. Gee meer aandag aan die ander aspekte van jou lewe. Bestee meer tyd saam met jou gesin. Ontspan vir ’n naweek in die natuur. En kry vandaar nuwe perspektief op die stresareas van jou lewe.

En lees weer ’n slag Psalm 18 van voor tot agter deur. Die Here wil hê dat jy so vry en onbevange soos ’n ribbok op hoë plekke sal loop. Stresvry!

Die Here wil graag vir jou nuwe lig gee en jou voete op ’n rots plaas.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.