Gedagte vir die dag: Strome lewende water

watervval_bome_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.co.za

“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” (Johannes 7:38-39a – AFR83)

Jy is een van hierdié mense! Deur jou geloof in Jesus Christus het jý die Heilige Gees ontvang en leef Hy binne-in jou, elke oomblik van elke dag. Hoe kosbaar is hierdie beskrywing nie, strome lewende water wat uit jou binneste vloei. Dit spreek van lewe, dit spreek van hoop en dit spreek van krag.

In Spreuke word verder beskryf hoe die wil en hart van die koning, onder die gesag van die Here staan en hoe die Here die wil van die koning, soos ʼn stroom water, volgens sý wil lei. Jesus het aan ons hierdie oorvloedige lewe geskenk. Vir dié wat in Hom glo en sy gebooie gehoorsaam.

Wanneer ek dan hierdie pragtige belofte in Jesaja lees, sien ek hoe hierdie oorvloed, wat deur die Heilige Gees in my gestort word, nie net vir myself gehou kan word nie, maar met ander gedeel moet word! In Jesaja beloof die Here dat Hy ons sal sterk maak en dat ons sal wees soos ʼn tuin met volop water, ʼn fontein waarvan die water nooit sal opdroog nie. ʼn Fontein is ʼn bron van lewe. Net soos die tuin met volop water het ons die Heilige Gees ín ons ontvang, om ons Helper en Bemoediger te wees. Meer nog, het ons die Heilige Gees ontvang wat kragtig deur ons werk! Daarom kan ons, net soos daardie fontein, deur die gawes van die Gees wat deur ons werk, soos die Gees wil, ʼn seëning en bron van lewe vir ander wees.

Laat die uitvloeisel en die oorvloed van die Heilige Gees se invloed in jou lewe ander inspireer en bemoedig om Jesus, die Gewer van alle lewe, met totale oorgawe te dien! Sodat hulle, net soos jy, daardie lewe en lewe in oorvloed kan ervaar.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.