Gedagte vir die dag: Strooi vandag blydskap

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees. (Spreuke 15:15, Die Boodskap)

Lag kan die wêreld verander. Dit maak jou gemoed ligter, help jou om die silwer randjies te sien, gee jou moed en … dit bind mense se harte aan mekaar. Natuurlik is ons werk belangrik en moet ons dit ernstig opneem. Niks is egter só ernstig dat ons die vreugde en lag in ons harte moet verloor nie.

Dis dikwels juis ’n glimlag wat iemand se dag verander, ’n stukkie uit-jou-maag-lag wat jou dag opvrolik, ’n grappie wat ’n ernstige kwessie ligter laat lyk … ’n sonstrepie op die mat wat die wêreld verlig.

Miskien moet ons onsself nie so ernstig opneem nie, maar eerder met ’n lied in ons hart loop omdat ons ons Vader se belofte van sorg ernstig opneem. Dalk moet ons die ligte kant van dinge soek omdat ons weet dat die Lig in elk geval in beheer is. Ja, kom ons kies sommer net weer om die lewe te geniet omdat ons die Vader van Vreugde aanbid.

Vra die Gees om vandag in jou ’n stukke blydskap te plant en wees op die uitkyk vir maniere hoe jy ander kan laat glimlag en hoe jy lag in ander se harte kan bring. Dit sal jou wêreld radikaal verander.

Here, maak my vandag iemand wat blydskap strooi omdat U – die God van Vreugde – in my is.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.