Gedagte vir die dag: Stroop alles af wat jou spoed kan vertraag

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop. (Hebreërs 12:1)    

Ek stap Maandagoggend my werkstudio binne en my hart sak soos ’n klip tot onder in my skoene. Hier wil ek nie werk nie. Ek stap uit en dink aan die prentjie voor my.

Bokse, papiere, boeke, verfdoeke, rame, tuintoerusting, kinders se skoolwerk. Hoe op aarde het hierdie “heilige” werksplek so vinnig ’n gemors geword? My eie sowel as ander mense se gemors. Ek voel lam en die begeerte om vandag te werk en produktief te wees, is by die deur uit.

Later lees ek “toevallig” bogenoemde Skrifgedeelte en dit tref my tussen die oë. Is ons “vol” Christenlewe nie maar presies dieselfde as my werkspasie nie? Ons belas onsself met soveel dinge, werkies, kommer en ook ander mense se laste. So vinnig be kruip alles ons en sonder dat ons besef, is ons gees so vol onnodige laste dat ons nie verder wil gaan nie. Ons wil die deur toemaak en weghardloop.

Bogenoemde Skrif wys my baie duidelik dat hierdie ’n resies is en dat daar spoed aan verbonde is – die spoed waarmee ons groei in Christus. Die vyand sal alles in sy vermoë doen om jou spoed te keer en hy gebruik al hierdie laste. Maar die Skrif leer my dat jy ’n keuse het. Jy het die keuse om hierdie laste af te gooi – of nie. Besluit vandag om “Nee” te sê vir dinge, mense en verpligtinge wat jou tyd steel. Prioritiseer. Dan sal jy die wedloop voluit kan hardloop.

Heilige Gees, wys my vandag wat ek onnodig opneem en help my om elke las af te gooi sodat my groei in Christus vinniger kan wees. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mara ·

Dankie vir hierdie stukkie bemoediging vandag.
Dit is net wat ek moes hoor vandag, op my pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.