Gedagte vir die dag: Stuur my!

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Vissersboot in Paternoster. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Ek het die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”. (Jesaja 6:8)

Jesaja vertel met ontsag: Die Here het na my gedraai. “Die boodskap van my liefde en genade moet verder geneem word. Sal jy gaan? Sal jy my boodskapper wees?” Ek, piepklein mensie, God se gesant – is dit moontlik?

Die serafs, brandende wesens, word nie gestuur nie. God kies Jesaja, ons, om die Goeie Nuus uit te dra. In ons tyd word dikwels na die drie-enige God as die sendende God verwys. Die Vader stuur die Seun. Die Vader en die Seun stuur die Heilige Gees. En dan – kan jy dit glo! – trek God ons in, maak Hy ons sy medewerkers, sy gesante op aarde. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook,” het Jesus ná sy opstanding vir sy dissipels gesê (Joh 20:21).

Waarom het die Here ons geroep en gered? Ons lippe gereinig? Wat is die diepste sin van ons lewe? Dis om deur God gebruik te word. Die belangrikste rede waarom ons vandag hier is, is om sy getuies te wees. Soos ’n vlam nie anders kan as om te brand nie, kan ’n gelowige nie anders as om te getuig nie!

“Wie sal Ek stuur?” Ek was skoon verbaas, vertel Jesaja, toe ek my eie stem hoor sê: “Hier is ek, Here, stuur my!” Om dit met jou hele hart te sê vra baie; jou ganse lewe. Het jy gehoor van die student wat tydens ’n sendingweek so onder die indruk van die erns van die saak was dat hy, toe die leraar Jesaja 6 vir die gemeente voorgelees het, gebid het: “Here, hier is ek. Stuur asseblief my suster!”

Wat is vandag jou antwoord? Stuur iemand anders – of stuur my?

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dankie Vader dat ek deur die krag van die Heilige Gees vir U kan getuig en vir U nie te klein is nie.
Hier is ek, stuur my.

Yvonne ·

Here dankie dat U gewone eenvoudige mense soos ek kan gebruik…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.