Gedagte vir die dag: Sug-sug

Vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

En nie net die skepping nie, maar ook ons ons sug ook (Romeine 8:23)

Die slim mense se daar is nie juis ‘n groot verskil tussen sug en gaap nie. Albei aksies is ‘n poging om nóg asem voort te bring, om meer suurstof by die brein te kry. Om te verhoed dat jy – vanweë slaperigheid of dalk verdriet? – versmoor.

Kerkgangers weet hoe dit is om te gaap; dit oorval hulle wanneer die voorganger se preek vervelig is, of wanneer hy of sy te lank bid. Hul wydoop mond dwing dan hul oë na die naaste sigbare horlosie – hoe lank nog?

Hulle weet veral ook hoe dit is om te sug, bloot omdat hulle in ‘n wêreld leef wat sugte ontlok. ‘n Wêreld wat self sug vanweë die verydeling wat hovaardig en heerssugtig die septer swaai.

Dit is in die wêreld dat alle mense, ook gelowiges, dikwels voel hoe hulle gewurg word, hoe die laaste asem uit hul longe gepers word. Hoe hul sugte weinig meer word as ‘n snak na asem. Hoe lank nog? sug hulle.

Juis die gelowiges se gesug is egter nie sonder meer ‘n uiting van wanhoop nie. Hartseer? Ja, wel. Ongeduld? Sonder twyfel. Die dowwe moedeloosheid wat die besef van j ou verganklikheid meebring? In die kol.

Ja, gelowiges se sugte rig ook hul oë na die horlosie, na die almanak. Hoe lank nog? vra hulle, maar dan nie sommer die lug in nie. Hulle sug hul vraag na God toe uit, hulle vra: Wys my u plan vir my, Here! Gee my ‘n uitsig op u toekoms. Bied my ‘n kykie tot in u hart.

Ek sug as ek rondom my kyk. Ek sien swarigheid, Here. Lig my tog op, beduie my waarheen om te kyk. En troos my met u visie vir my en vir u wêreld.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Annemarie ·

Ek het aanmekaar gesug op my werkspad vanoggend oor taxi bestuurders wat GEEN WAARDE aan hulle eie lewe asook die lewe van ander skenk nie. Het die bestuurders nie ook geliefdes waarna hulle wil terugkeer aan die einde van ‘n dag nie? Hoekom almal om hulle in gevaar stel? Ek het vanoggend sommer hardop gebid “Here U toets elke dag my geduld en geloof met die taxi bestuurders en ek vaal elke dag”, ek speel nou al geestelike musiek in die oggend om my gemoed te kalmeer, maar die SUG kon ek nog nie onderdruk nie!

Riki ·

Wanneer kom Jesus? Dis al waaroor ek nog sug, in blye afwagting!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.