Gedagte vir die dag: Sukkel jy om ander opreg lief te hê?

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom … en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. (Filippense 1:9-11)

Ek is oortuig daarvan dat een van God se hartsbegeertes is dat ons, sy kinders, in liefde teenoor mekaar sal leef. Net soos ons as aardse ouers graag wil hê ons kinders moet goed met mekaar oor die weg kom, liefhê en in moeilike tye dra, só glo ek is dit ook God se wens vir ons, sy kinders.

Ons sukkel egter om mekaar opreg lief te hê selfs al is ons broers en susters in die geloof. Ons veroordeel so maklik, is fyngevoelig en jaloers. Ons is baie goed daarmee om grense en mure tussen ons naaste te trek en te bou. Ander word op ’n afstand gehou. Daar word groepe van enersdenkende en gedeelde belange gevorm. Dis “ons” teenoor “hulle”. Ons wantrou ander en is agterdogtig teenoor hulle.

Jesus se lewe op aarde leer egter vir ons kosbare lesse – Hy het niemand ooit verstoot nie; Hy het grense oorgesteek; Hy haat die sonde maar het die sondaar innig lief. Jesus het God se liefde kom demonstreer en ons kom wys hoe God se liefde lyk. Jesus het Hom met die verworpenes, die sondaars, die tollenaars, die straatvrouens, die siekes en die armes geassosieer. Hy het ons geleer om die ander wang te draai, vir ons vyande te bid, hulle te seën en die tweede myl te loop.

Wanneer ons mekaar liefhet, laat ons God se koninkryk hier op aarde kom. In 1 Johannes 4:12 staan: “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons …” Jesus sê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:34-35).

In hierdie gedeelte bid Paulus dat die gelowiges se liefde vir mekaar sal toeneem, hy bid vir onderskeidingsvermoë by hulle. Onderskeidingsvermoë beteken dat ’n mens in die praktyk die verskil tussen goed en sleg, reg en verkeerd, belangrik en onbenullig ken, en dat jy telkens die regte opsie uitoefen. Paulus beklemtoon: God bewerk hierdie liefde in ons. Vra die Here om dit in jou te doen.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.