Gedagte vir die dag: Swaar

riet_veld_gras_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 1: 4-6

Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word (Psalm 1:4)

Daar is mense in ons wêreld wat baie swaar dra aan hul eie belangrikheid. Al die selfverklaarde vernaamheid, al die selftoegekende medaljes en selfversekerde waarhede wat hulle met hulle saamkarwei, rem hulle af. Hulle slaap ook swaar, want die enorme drag laat hulle wakker lê.

Daarom is dit vreemd (ag, en juis ook nie) dat die Here so swaar oor hulle oordeel. Die psalmdigter sê: Hulle is veerlig in God se oë, die wind waai hulle sommer weg. Wanneer Hy na hulle kyk … kyk hulle weg. Versmelt al hul ydelheid en waan. Hulle het niks te sê as Hy met hulle praat nie, hulle kan geen woord bydra tot ‘n gesprek met Of oor Hom nie. Daarom kan hulle maar opstaan en loop en niemand sal hulle mis nie. Grootmanpraatjies pas nou eenmaal nie by ‘n plek waar ‘n blye boodskap verkondig word nie.

Ten slotte spreek die psalmdigter ‘n verdoemende oordeel oor sulke mense uit. Hy se: Wanneer hulle opstaan om te loop, eindig hul pad oor ‘n afgrond. Hulle oorleef dus nie hul belangrikheid nie.

Daar is wel vir hulle, ironies genoeg, ‘n moontlike uitweg. En die sleutel hiertoe lê in die psalmdigter se beskrywing dat hulle so lig is “soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word“. Want is dit nie juis in ons broosheid, ons afhanklike menswees, dat ons in die Here se arms pas nie? Sodat Hy ons, sonder ons belangrikheidbagasie, langs ‘n heel ander roete na ‘n onberekenbaar veiliger bestemming kan dra nie?

Help my, Here, om nou van my swaar drag omslae te raak. Tel my op, asseblief.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

Baie dankie hiervoor. Netmooi dit nodig gehad vanoggend. Dankie Heer vir reën in die Kaap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.