Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons vandag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. (2 Korintiërs 4:16, 17)
In die loop van die maand het ons baie duidelik verstaan dat die Bybel nie ’n flatervrye, pynlose lewe vir God se kinders waarborg nie. Ek raak benoud as mense met ’n welvaartsgodsdiens vorendag kom waar alles maar net voorspoedig vir Christene moet verloop. Dit werk nie so nie. Die Bybel bied talle voorbeelde van net die teenoorgestelde. Die enigste verskil is die manier waarop Christene hulle swaarkry verwerk. Ons benader dit nie fatalisties nie. Ons sug nie skouerophalend en sê dat dit nou maar seker ons lewenslot is nie. Ons sien dit positief as ’n leerskool waardeur die kwaliteit van ons geloof gelouter word.
Maar nog meer: Ons sien dit as iets wat verbygaan onderweg na ’n ewige en onverganklike heerlikheid wat die Here vir ons belowe het. Ons raak nie wanhopig nie, al is die uiterlike besig om te vergaan; ons bly hoopvol omdat ons innerlik besig is om al hoe sterker te word.
Ons harte kan vol vreugde wees , want ons weet wat wag op ons en dit sal! gebeur!. ons kan daarom die lewe se probleme en hartseer met vrede in ons harte verwerk.